Skip to main content

‘n Vrou wat na bewering ‘n renosterhoringhandelsindikaat ter waarde van R6 miljoen bestuur het, is verlede Woensdag in Bedfordview in hegtenis geneem.

Volgens Mulamu kom die inhegtenisneming nadat die ondersoekspan inligting opgevolg het oor ‘n voortgesette ondersoek wat verband hou met ‘n Kempton Parkse saak waarin mense aangekla is van die handel in renosterhorings en die oortreding van die Doeane- en Aksynswet in September verlede jaar.

Kaptein Ndivhuwo Mulamu, die Gautengse Valke-woordvoerder, het gesê hulle het tasse gevind wat in plastiek toegedraai was in die motorhuis van ‘n vrou in Senderwood, Bedfordview.

“Daar was sowat 29 renosterhorings, wat 51,94 kilogram weeg, met ‘n geraamde straatwaarde van R6 miljoen gevind. Die horings was in swaar foelie toegedraai. Daarmee saam was vier weegskale en twee swaar snymasjiene waarop beslag gelê is vir verdere ondersoek.”

Die vrou is onmiddellik in hegtenis geneem en sal na verwagting Vrydag in die Germiston-streekhof verskyn vir handel in renosterhorings en die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit.

Ebrahim Kadwa, die hoof van die Gautengse Valke, het gesê hy is tevrede met die ontwikkeling. “Dit word as ‘n groot deurbraak beskou aangesien die verdagte wat in hegtenis geneem is, glo deel vorm van ‘n formidabele internasionale wildhandelnetwerk.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!