Skip to main content

ʼn Skietgeveg tussen die polisie en ’n groep transitorowers het gistermiddag in Rosettenville, Johannesburg, plaasgevind.

Paramedici van ER24 en ander ambulansdienste het kort na vieruur op die toneel aangekom. Volgens Russel Meiring, ‘n woordvoerder van ER24, is die agt rowers met verskeie skietwonde aangetref en op die toneel dood verklaar. Een van die rowers se liggaam is in die pad aangetref, nog twee in ’n motor en die vyf ander op ’n nabygeleë perseel.

Volgens Grace Langa, die woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod ) is vier polisiebeamptes na ‘n nabygeleë hospitaal vir behandeling geneem. Twee beamptes is later met lugambulanse na ’n ander private hospitaal oorgeplaas. Een van die vier polisiebeampes het egter later die aand aan sy besering beswyk.

Die Minister van Polisie Bheki Cele wat ook op die toneel was na die voorval het gesê dat daar ’n groep van 25 transitorowers betrokke was. Daar is glo vroeër inligting ontvang dat die groep van plan was om ’n geldwa te beroof, waarna polisiebeamptes hulle begin dophou het.

Twintig van die rowers is na bewering van Zimbabwe en Botswana.

Die saak word verder ondersoek.

Leave a Reply