ISAAC CLOETE
Inwoners van ‘n Afrikanerdorpie juig al weer na ‘n hofuitspraak.
Vir hulle beteken dit dat hulle huise op die Afrikanerdorpie, Eureka, nou nie sommer gou deur die plaaslike munisipaliteit gesloop kan word nie.
Die hooggeregshof in Kimberley moes Maandag beslis oor ‘n appélaansoek (oor sloping) van die Kamiesberg munisipaliteit (KBM) op Garies.
Die appélaansoek het gevolg nadat ‘n landdroshof in 2021 beslis het dat die KBM nie kan voortgaan om ongeveer 24 huise op Eureka te laat sloop nie.
Die saak handel eintlik oor dorpstigting en die bou van huise op die privaatgrond van die maatskappy, Eureka Bpk. Hieruit het die sogenaamde Eureka-beweging van die bekende kubuskoning, Adriaan Nieuwoudt, ontstaan.
Dit behels die vestiging van Afrikaners op hul eie grondgebied weens die marginalisering van hierdie volk. Maar veral weens die aanvalle op hulle en die uiters gevaarlike veiligheidsrisiko’s in die land, volgens Nieuwoudt.
Dieselfde groepie inwoners het in Desember verlede jaar ook gejuig nadat landdros PK Magidela, die KBM se aansoek om sloping met kostes van die hand gewys het.
Die KBM het aanvanklik verklaar dat die strukture onwettig opgerig is en gesloop moes word. Hulle het hulle beroep op die nasionale bouregulasies en standaardewet 103 (1977).
Maandag het die hof van appèl dieselfde regulasie (art21) beskou as “moontlik onkonstitusioneel en gevolglik deur die konstitusionele hof bereg moet word.”
Die partye het kans gekry om hulle hofstukke teen 30 April in te dien. Die hof het ook kostes voorbehou.
Intussen sweef Nieuwoudt van blydskap. Hy het aan Die Waarheid vertel dat hulle verheug is.
“Dit maak ons harte bly dat die saak nou in die hande van die konstitusionele hof geplaas is. Ons het Eureka net op ons grondwetlike regte begin en niks anders nie. Uiteindelik sal hierdie onnodige saak teen ons deur die konstitusionele hof beoordeel word.”
Deon Harmse, ‘n inwoner van Eureka, het gesê dat Maandag se saak geskiedkundig is as dit kom by mense se regte. Volgens hom was baie mense se woonplekke in selfs plakkerskampe al vernietig deur agter die betrokke bouregulasie te skuil.
Hy het opgewonde gesê: “Ons situsasie is nie uniek nie, dus praat ek nie net van ons regte nie. Ek verwys na almal se regte in die algemeen. Gister se hofuitspraak baan die weg vir enigeen in die land om sy blyplek te verseker en te beskerm.”
Rufus Beukus, die munisipale bestuurder van die KBM, het teen druktyd nie gereageer op vrae oor die uitspraak nie.
Walter Niedinger (WNA Attorneys Inc) het die respondente verteenwoordig.