Skip to main content

Die Britse regering het in 1965 die Chagos-groep eilande, geleë in die sentrale Indiese Oseaan, en wat aan Mauritius behoort, in ‘n nuwe koloniale jurisdiksie geplaas in die Britse Indiese Oseaan-gebied. Dit bestaan vandag nog.

Britse en Amerikaanse diplomate het in die vroeë 60’s saamgesweer om ‘n militêre basis op Diego Garcia, die grootste atol van die Chagos-argipel, te vestig, berig allAfrica.

Daar was baie voordele wat die eiland betref. Daar was ‘n natuurlike hawe, kon ‘n groot landingstrook huisves, en was ongeveer in die middel van Suidoos-Asië en Oos-Afrika.

Maar daar was twee probleme: die eilande was onbewoon en dit het aan Mauritius behoort.

Dit was egter nie as ‘n probleem gesien deur Britse amptenare nie, en hulle het onwettig ‘n militêre basis op Diego Garcia gebou, en die hele groep eilande met geweld ontvolk tussen 1965 en 1973 sodat dit slegs as ‘n gemilitariseerde terrein bestempel kon word.

Mauritius het vir baie jare kapsie gemaak teen hierdie onwettige diefstal van hul eilande, en in 2019 het die Internasionale Hof van Justisie met hierdie siening saamgestem en die ontvolking van die vorige eilandbewoners onwettig verklaar. Die Britse regering is beveel om die eilandbewoners te laat terugkeer.

Volgens die hof se bevindinge het die Britte beide binnelandse en internasionale wette oortree. Die Britte het hulle egter nie aan die uitspraak gesteur nie. Hulle het nie die bewoners toegelaat om terug te keer nie, en het iets wat die ‘Orders in Council’ genoem word, gebruik. Dit is ‘n vorm van primêre wetgewing wat sonder enige insette van die Parlement gedoen is om die hofuitspraak te systap.

Nou, ten einde laaste, is die vlag van Mauritius verlede week bo die Chagos-eilande Peros Banhos en Salomon gehys. Mauritius het lank genoeg gewag om sy verlore grondgebied te herwin.

Al wat oorbly is vir Brittanje om die ordentlike ding te doen en die Chagos-argipel sonder versuim te dekoloniseer. Op die ou end is die beste manier vir Londen om sy verbintenis tot internasionale reëls te demonstreer, om dit werklik te volg.

Leave a Reply

error: Content is protected !!