Skip to main content

‘n Polisiebeampte en ‘n burgerlike lid wat homself as ‘n polisiebeampe voorgedoen het, was onder die ses verdagtes wat Saterdag in Pretoria in hegtenis geneem is ná ‘n beplande lokval wat deur die polisie se multi-dissiplinêre span gelei is.

Luitenant-kolonel Philani Nkwalase, die woordvoerder van die Valke, het gesê ‘n multi-dissiplinêre span het vinnig opgetree nadat inligting ontvang is oor ‘n sindikaat wat na bewering verbind word met ‘n reeks gewapende rooftogte in Gauteng, en wat ‘n gewapende roof in Pretoria beplan het.

Hy sê twee verdagtes wat in ‘n VW Caddy gery het, is in Silverton in Pretoriastraat naby ‘n vulstasie voorgekeer en in hegtenis geneem.

Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die Caddy in Oktober 2021 in Pretoria-Wes as gesteel aangemeld is.

“Intussen het ‘n ander span ‘n Volkswagen GTI Golf 7 gevolg wat gejaag het om arrestasie te ontduik. Toe die polisie hulle op Alwynweg in Nellmapius probeer keer het, het hulle na bewering op die polisie geskiet, waarna daar op hulle teruggeskiet is.

’n Polisiekonstabel verbonde aan die Gautengse misdaadintelligensie is saam met twee ander insittendes in die voertuig in hegtenis geneem.

“Een van die verdagtes, ‘n burgerlike wat ‘n volle polisie-uniform gedra het, het skietwonde opgedoen en is na die hospitaal gehaas waar hy onder polisiebewaking is,” het Nkwalase gesê.

Leave a Reply

error: Content is protected !!