Skip to main content

ISAAC CLOETE

Vir byna vier dekades het sy haar werkgewer elke dag gedien.

Soms was dit moeilike tye, maar die meeste kere ‘n plesier om haar werk met vreugde en eerlikheid  te doen.

So het die kok, Monica Britz (63), die week op Springbok vertel. Op Maandag, 15 Februarie, net ‘n dag na die Valentynspartytjies, was sy herinner dat sy 38 jaar (op die kop) gewerk het by die bekende Springbok Lodge.

Die nooi, oorspronklik van Port Nolloth, was  hiermee verras , het sy bygevoeg.

Sy vertel dat sy 38 jaar gelede uit die Port geryloop het om werk te kom soek op Springbok.

Volgens haar het sy een-uur die middag met die eienaars gepraat. Dieselfde aand moes sy inval… ‘n 24-jarige sonder ervaring.

“Ek is seker die enigste een wat sewe-uur die aand by ‘n nuwe plek moes begin werk. Aanvanklik was ek ‘n algemene werker teen R80 per maand. Hiermee kon en het ek alles moes doen.”

Sy moes toe haar kinders onderhou en ook geld vir haar ouers op Port Nolloth stuur. Behalwe dit moes sy boonop geld oorhou vir haar self. Volgens haar was daai R80 vir haar soos R 8 000 in vandag se geldterme.

Britz kan nie rêrig enige goeie oomblikke onthou nie. Daar was te veel, maar dan was daar oomblikke wat haar soms laat wonder het of sy nog moes werk.

Tydens sulke oomblikke het oom Jopie Kotzé (oorlede eienaar) haar ‘n sigaret gegee en haar na haar kamer gestuur. Hy sou haar dan vra om eerder haar “kop eers skoon te gaan kry”.

As sy hierna teruggekom het, het sy weer haar pligte met nuwe moed en energie aangepak. En so het die jare gekom en verbygevlieg. Maar het sy ook ouer en wyser geraak.

Sy het ‘n baie goeie mense- en werksverhouding met die Kotzé-egpaar opgehou. Derhalwe sal sy altyd onthou om eerlikheid en vriendelikheid aan ander te betoon. Woorde wat oom Jopie by haar laat posvat het.

Veral tydens die blommeseisoen is die lodge op sy besigste en lekkerste. Dan kom toeriste van heinde en verre om die skouspel gade te slaan.

“Soms moes ek en oom Jopie alleen tot laat opsit en wag totdat die toeriste klaar gekuier het. Maar dit was OK, want onder hulle was soms bekende persone soos Steve Hofmeyer, tant Stienie en David Kramer.”

Britz is ook mal oor die blomme-skouspel. Sy hoop sy sal uitgespaar bly om hierdie jaar se verwagte goeie blommeprag as deel van die lodge te ervaar.

Sy hoop ook om te minste ‘n 40-jarige werksrekord by dié lodge te slaan, met of sonder ‘n goeie blommeseisoen.

Dit was nie bekend of sy nog ‘n groot partytjie sal kry nie, omdat sy nie juis van die kalklig hou nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!