Skip to main content

Sonnette Lombaard

Marry Me

Romantiese komedie

Met Jennifer Lopez, Owen Wilson, Sarah Silverman en Maluma.

In ‘n heelal wat 24/7 hunker na blink, blur feit en fiksie al meer. En Hollywood se kammakamma-geldmasjien en die mega-vermaakbedryf voed die heersende hol glansera al te gedienstig.

Die vraag bly of ware ‘outydse’ ridderlikheid en liefde nog hedendaags haalbaar is binne ‘n botox-behepte samelewing wat om geld spin? Want wyl die gewone millenniummens roem en rykdom begeer, smag diegene wat dit het – lees stinkryk supersterre – skynbaar na eenvoud, veral ook in hartsake.

Of so wil Hollywood ons (soms) laat glo. Romantiese komedies is gewilde grootdoekmateriaal wat belustig hierop voortborduur – in 1999 het die Britse romcom Notting Hill fliekgangers uitgeknikker. Die sprokiesromanse tussen Julia Roberts as ‘n reuse-rolprentster wat verlief raak op ‘n gewone bleek Brit (Hugh Grant) het dit oraloor ‘n lokettreffer gemaak. Met die 21ste eeu wat fluks vorder, was dit was hoogtyd vir ‘n opvolger.

Marry Me volg inderdaad dieselfde wenresep, tydig in ‘n eietydse, blink baadjie geklee. Gegrond op ‘n gelyknamige strokiesboek (grahic novel), speel dit in die Groot Appel af. Na pandemie-vertragings was dit betyds vir Valentynsdag vanjaar. Reeds in die eerste week het dit wêreldwyd, ook hier, blitsig die topposisie gehaal.

Soos in Notting Hill, zoem Marry Me in op die liefde en huwelik te midde van die millennium-mynveld volop vlak versoekings, aangevuur deur sosiale media. Die draaiboek poog ook om tussen die toenemende vae lyne van feite en fiksie, die menssiel agter ‘n image te vind.

Wat Roberts in Notting Hill (en vroeër Pretty Woman) reggekry het, moet Jennifer Lopez hier nadoen. Meer perfek vir die hoofrol sal jy nie sommer kry nie. Ms Lopez, of J-Lo soos sy globaal gewild is, bou self haar glanskoninkryk en haar hand is hier ook in ‘n vervaardigingsrol deurgaans opvallend. As ‘n slim sakevrou wis sy hoe om haarself vars te hou en is ‘n ewe bekende naam en gesig in die musiek- en rolprentbedryf en veteraan van realiteits-teevee.

Boonop word J-Lo se bedrywige liefdeslewe gulsig opgeslurp. Wat beteken dat sy in wese haarself kan wees of speel in Marry Me. Kat Valdez is ‘n superster en musiekdiva wat voor miljoene slaafse volgelinge die ja-woord gaan gee aan die ewe gewilde en vuurwarm Latino-ster Bastian (Maluma is ‘n musieksensasie uit Suid-Amerika, waarvandaan Shakira ook heil).

Met sirkusmanie wat heers en sosiale media paraat in afwagting om twee supersterre se lewendige huwelik-skouspel na alle uithoeke te stuur, maak Kat ‘n skokontdekking wat haar sprokie ontspoor.

Gelukkig wag die regte held in die vleuels. Al is hy teensinnig deur sy dogter en vriendin na Kat se megakonsert gesleep. Wiskunde-onnie Charlie Gilbert (Owen Wilson) se middelklasbestaan is wêrelde verwyder van glans se flitsligte en die kuberruim.

Wilson se rol en spel red die voorspelbare storie met welkome normaliteit wat sterk afwys teen die oordaadpraal andersins. Hy is ‘n geliefde akteur wie se onbeholpe seunsvoorkoms goed in romcoms werk. Nogtans duld J-Lo ooglopend geen kompetisie voor die kamera nie en haar heelal heers regdeur.

En al is beide sy en Wilson ervare met romantiese en/of komiese vertolkings op die silwerskerm, kelder die dun draaiboek vuurwerke.

Slaag Marry Me as waardige opvolger vir die bekoorlike Britse Notting Hill? Helaas, nee. Dit sprank van Pretty Woman en spitsvondigheid van When Harry met Sally ontbreek eweneens.

In die plek van skerp Britse humor of Hollywoodsjarme, ontplof puurglans in jou gesig. Pleks dat die storie jou hart murwe, moet jy koes vir die baie bling en glam. O wee, as dit ‘n spieël ophou oor menswees en liefde binne die millenniumlandskap.

Behalwe ’n moderne aanslag, verkoop Marry Me niks nuut oor Cupido se  grootdoekpyl nie. Dis op sy beste onskadelike ontvlugtingsvermaak, wat waarkynlik meer aanklank by jonger kykers sal wek. J-Lo fans sal die klankbaan begeer – dit wemel met oorspronklike opskopnommers deur haar en Maluma.

Met Valentyn wat nog rondhang, is hierdie veerligte vermaak wat so lank as jou springmielies sal hou. Kasregisters sal waarskynlik rooskleurig bly klingel.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!