Skip to main content

Ses Gautengse polisiebeamptes is in hegtenis geneem vir handel in dagga en die besit van dwelms.

Brenda Muridili, die  provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die beamptes is Vrydag in Vereeniging in hegtenis geneem.

Muridili sê die polisie van die plaaslike polisiestasie en die Sedibeng-distrik het die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Sizakele Nkosi-Malobane, na die taxi-staanplek vergesel toe hulle op die toneel afkom.

“Taxi-operateurs het twee ongemerkte polisievoertuie gekeer om die taxistaanplek te verlaat,” het Muridili gesê.

“Dis twee voertuie wat aan Sedibeng se sigbare polisiëringstaakspan verbind word. Die taxi-operateurs het die polisiebeamptes daarvan beskuldig dat hulle dwelms by die taxistaanplek versprei.”

“Die polisie het die voertuie deursoek en ‘n houer met Mandrax, crystal meth, dagga en 62 pakkies nyaope asook verskillende registrasienommers is in die voertuie gevind,” het Muridili gesê.

‘n Polisie sersant en vyf konstabels sal van handel in dagga en die besit van dwelms aangekla word.

Hulle verskyn binnekort in die hof.

Leave a Reply