VIRGINIA KEPPLER
“Moet asseblief nie my seun doodmaak nie, bel eerder die polisie.”
Só pleit die voormalige 7de Laan-aktrise, Fatima Abdool (53), in ‘n Facebook inskrywing uit desperaatheid om haar seun se lewe te red.
Abdool, die visie-president van die United Independent Movement (UIM) en gemeenskapsaktivis, het ‘n foto van haarself en haar seun, Carl Abdool (31), op ‘n Facebook nuusblad gaan plaas en geskryf: Hierdie is my seun Carl Danvor Abdool aka Bala. Hy is ‘n dwelmverslaafde en hy verkies nyaope. “Ek het hom uit die huis gesit omdat hy ons ooreenkoms dat hy terug huis toe sou kom vir ‘n week in Januarie en daarna na ‘n rehabilitasiesentrum in Johannesburg sou gaan, verbreek het.
Volgens Abdool het sy besluit om die boodskap te plaas na sy ‘n stemboodskap van ‘n inwoner ontvang het waarin hulle sȇ as hulle weer haar seun in hul erf kry gaan hulle hom seermaak of doodmaak.“
“Ek het dit vir sy eie beswil op Facebook geplaas. Daar is baie mense wat weet hy is my seun en baie wat dit ook nie weet nie. Dit is waarom het ek die foto van ons twee saam geplaas het.
“Ek is nie skaam vir my kind nie, maar ek is baie hartseer. My seun steel en breek by mense se huise in. As jy hom op jou erf kry, arresteer hom ‘seblief en bel die polisie. Moet hom asseblief nie dood maak nie,” het sy geskryf.
Abdool sȇ sy is maar net ‘n mamma wat haar seun probeer help. Intussen het talle mammas Abdool gekontak met die boodskap dat hul haar lot deel, vir haar bid of self al deur die soort diep water is. “My sosiale network bestaan uit 70% witmense, maar meeste van die mense wat met my gedeel het oor hul kinders se dwelmhel is uit die bruin gemeenskape van Pretoria tot in Eldorado Park en selfs so ver as die Kaap.”
Dié voormalige aktrise, wat veral bekend is vir haar rol in Scandal, Binnelanders, Song vir Katryn en 7de laan, sȇ dit breek haar hart om so openlik oor haar seun se stryd met dwelms te praat, maar dit is haar laaste poging om hom te probeer help. “Ek kan dit nie langer onder die mat invee nie. Dit breek my hart, want hy is ‘n opgevoede seun. Hy het al die ondersteuning en liefde, maar steeds kies hy om nie gehelp te word nie.”
Abdool se alhoewel daar diegene is wat voel sy moes dit nie so openbaar gemaak het nie, is daar honderde mammas wat haar ondersteun en intussen vir haar seun ‘n bidgroep begin het.
Meer as 700 mense het op Abdool se facebook-inskrywing gerageer en 183 het kommentaar gelewer.
Sy sȇ somtyds kom haar seun huis toe en vra kos en sy behandel hom soos sy enige persoon van die straat sal behandel en kos gee. “Maar ek sê vir hom ek is lief vir hom en daarna loop hy net weer en dae of selfs weke gaan verby dan sien ek hom nie.
“Carl was al na rehabilitasiesentrums toe, dan tronk toe en dan weer straat toe. Die laaste keer, net voor die nuwe jaar, het hy my uit Fordsburg gebel waar hy op straat gebly het om hom te gaan haal. Maar hy sê ook vir my: Mamma, dit is moeilik, ek wil die dwelms los maar dit is so vrylik beskikbaar in Eersterust en dit is nie maklik om net op te hou nie.
“Ek het nie die hoop opgegee dat my seun eendag bevry sal word nie, maar ek weet ook dat Nyaope is mos eintlik heroïne en dit is erg verslawend. Dwelms is ‘n groot probleem en die stryd om daarvan ontslae te raak is nog groter,” sȇ Abdool.
In Eersterust het gemeenskapslede twee jaar gelede in ‘n daadwerklike poging om die gemeenskap van dwelms te bevry, 20 name en addresse van beweerde dwelmhandelaars aan die polisie oorhandig. Van die mense is tydens klopjagte gearresteer maar daarvan het ook maar niks gekom nie.
VADER ons smeek vandag vir Carl.
Ons bid vir redding en verlossing.
In JESUS Kragtige NAAM. Amen