Skip to main content

Sonnette Lombaard (58) van Johannesburg is Die Waarheid se nuwe rolprentresensent wat lesers elke Vrydag gaan vertel waarna om die naweek te kyk. Sy gee bietjie agtergrond oor haarself:

As deel van ‘n lees- en weetgierige middelklasgesin aan die Oos-Rand, het ons graag gefliek by inryteaters en toe ek tiener word, was Brakpan se grênd ou teater in die hoofstraat ‘n geliefde uithangplek. My laerskoolonnie se seun was destyds ‘n jong omroeper by die SAUK en hy het my vir die hoofrol in die skooloperette kom afrig. Dit was 1976 en hy is Leon van Nierop.

Dertig jaar later het ek en Leon as resensente gereeld langs mekaar gefliek! Ek was toe al lank joernalis en het dikwels kompetisies gewen vir wanneer jy oor jou gunsteling movies moes skryf. My droom om resensent ook te wees, het in 2004 waar geword toe ek deel van Beeld se vaste fliekpaneel geword het en ook resensent. Daarna het ek dieselfde gedoen by die koerant Sondag.

In die 2000s was ek eksterne eksaminator in rolprentresensering vir honneurs-studente by Tukkies. Daarna vermaakredakteur vir Rooi Rose waar ek o.a. oor nuwe flieks en boeke moes skryf. Ek volg regisseur-style en trends in die bedryf.

Flieks is ‘n lewendige, beeldende ensiklopedie waardeur ek van kleintyd reis. Dit open steeds nuwe wêrelde vir my … ‘n skatkis wat aanhou gee.

Leave a Reply