Skip to main content

Saterdagaand om ongeveer 20:00 is Ernst Human se liggaam op sy plot net buite Jan Kempdorp gevind.

Lt.kol. Sergio Kock, die polisiewoordvoerder, sê Human, wat alleen gewoon het, is deur ‘n familievriend gevind en dié het onmiddelik die polisie in kennis gestel van die voorval.

Human is in sy studeerkamer gevind met sy hande en voete vasgebind, asook met wonde aan sy bobene.

Die polisie kon in dié stadium nie bevestig wat het tot die voorval gelei nie. ’n 46-Jarige vrou word tans aangehou vir ondervraging.

Die DA is veral bekommerd oor die getal moorde en aanrandings in die area, waarvan die meerderheid onopgelos bly.

Dit sluit die 2018-moordsaak van Edward Denver Lloyd in. Volgens Jennifer Pietersen, die ma van die moordslagoffer, was daar sover geen vordering aangaande die moordondersoek nie. Daar is ook geen terugvoer oor die R10 000 wat as beloning vir inligting oor Edward se moord aangebied is nie.

Na bewering is daar tien ander onopgeloste moordsake sedert 2018. Intussen word daar beweer dat daar vyf nuwe moorde in die afgelope twee maande in die gebied aangemeld is.

Die gemeenskap beweer hulle is deeglik bewus van wie die moordenaars is, maar geen arrestasies word uitgevoer nie. Daar is ook bewerings van getuies wat vir hul lewe vrees en een getuie het selfs selfmoord gepleeg omdat hy glo gevrees het vir sy lewe.

Enigiemand met inligting kan D/Sgt Stefaans Mangate skakel by 0609636397. Die polisie-ondersoek duur voort.

Leave a Reply