Skip to main content

ISAAC CLOETE

‘n Dorp se mans kla dat dit verregaande is om ‘n polisievên so baie te stoot.

Boonop is die bakkie “kaalstert” of sonder ‘n kap en ongemerk, vertel mans op Steinkopf in die Noord-Kaap.

Gerold Engelbrecht is die voorsitter van Top 5, ‘n gemeenskapsorganisasie hier. Volgens hom kom die stotery nou al ‘n geruime tyd aan. Hy vertel hygend: “Al die voertuie by die polisiestasie is foutief. Polisiebeamptes moet gereeld die enigste bakkie aan die brand stoot as hulle ‘n klagte moet gaan ondersoek. Baie keer moet gemeenskapslede hulle help stoot.”

Dit het onder Die Waarheid se aandag gekom dat hierdie polisiestasie tans geen toe-kap gemerkte bakkies het nie. Derhalwe kan hulle nie uitgaan en arrestasies gaan maak nie. Ook kan hulle nie roetine-besoeke en patrollering doen nie.

Omdat die beskikbare bakkie nie ‘n kap het nie, kan enigiemand opklim en weer afklim soos hy wil. Veral wanneer ‘n oproerige skare beteuel moet word.

Wanneer die bakkie wel uitgaan na byvoorbeeld ‘n toneel, moet dit heeltyd staan en luier. En so word brandstof vermors. Indien dit egter afgeskakel sou word, moet die polisie of die dorp se mans dit weer aan die brand stoot.

Engelbrecht het vertel dat die dorp en buitewyke ongeveer 12 000 inwoners het. Tans is die Steinkopf-polisie se dienslewering so swak dat hulle ‘n skamele 5/100 kry.

“Ons het al e-posse gestuur en gaan kla by die stasiebevelvoerder, GPF, Springbokkantoor, gebiedsbevelvoerder en provinsiale vlak, sonder welslae.”

‘n Gemeenskapslid, wat naby die stasie woon, het smaaklik anoniem vertel dat hy ook al die bakkie aan die brand moes gaan stoot het, omdat die arme polisie gesukkel het. Hy voel dat die polisie die Steinkopf-gemeenskap totaal gefaal het.

‘n Ouerige oom het blosend vertel dat sy rug al stokstyf is van al die gestotery. Volgens hom gebeur dit veral vroegoggend, as hy verby die polisiestasie moet stap na die winkel.

“Dit moet nou stop,” was sy filosofiese woorde.

Die waarnemende gebiedsbevelvoerder van Namakwaland, kol Schalk Andrews, het gesê dat daar wel voertuie is. As hulle meganiese defekte het moet die stasie-bevelvoeder dit na die garage stuur.

Volgens hom maak die Top5 wilde bewerings, aangesien daar baie gedoen word sodat stasies voertuie beskikbaar kan hê.

“Ek weet niks van voertuie wat aan die brand gestoot moet word of ‘n tekort aan voertuie nie. Maar die stasiebevelvoerder moet dit onder my aandag bring.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!