Die SAPD se Kabega Park-speurders ondersoek ‘n saak van strafbare manslag na ‘n botsing vroeg Maandagoggend op Ou Kaapweg naby St Albans.
‘n Inwoner van die omgewing het omstreeks 04:29 ‘n harde slag gehoor en na verdere ondersoek is ‘n wit Mithubishi Lancer in die bosse gevind. Geen ander voertuig was betrokke nie. Daar word beweer dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het en die voertuig het omgeslaan.
Die bestuurder en die passasier is op die toneel dood. In hierdie stadium is die oorledenes se name nog nie bekend gemaak nie.
Die polisie-ondersoek duur voort.