Die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Khumbudzo Ntshavheni, – wat deur die Zondo-kommissie as “waarskynlik skuldig” bevind is in die Guptas se plundering van Denel -, sê haar naam is gebruik “sonder behoorlike inagneming van die sake” in die staatskaping-ondersoekverslag.
Die tweede deel van die verslag, wat twee weke gelede gepubliseer is, het die voormalige Denel-direksie verantwoordelik gehou vir die Guptas se kaping van die staatswapenvervaardiger. Ntshavheni het op hierdie raad gedien.
Sy het Dinsdagmiddag tydens die tweede dag van die debat oor president Cyril Ramaphosa se staatsrede deelgeneem. Ntshavheni het gesê sy moet die verslag aanspreek, waar haar “naam sonder inagneming van die sake gebruik is”.