Robbi-Lee “Niesie” Louw
Henry “Manneman” Louw
ISAAC CLOETE
“Een seer bo die ander, een verdrinking bo die ander…”
Dit is seker nie genoeg om die diep hartseer van die Louw-familie saam te vat nie.
Maar ten minste ken die wêreld ook nou hul nagmerries nadat nog ‘n niggie en nefie van die familie onlangs verdrink het. Jare terug het ‘n oom van die twee ook onverklaarbaar in die Grootrivier verdrink.
Die slagoffers was die twee 12-jarige kinders, Robbi-Lee “Niesie” Louw en Henry “Manneman” Louw, wat Saterdag op Pofadder in ‘n diep sloot vol reënwater verdrink het.
Volgens Lizelle Matthys, die peetkind van Robbi-Lee, het die twee en ‘n ander maatjie na ‘n graf by die begraafplaas gestap. Langs die begraafplaas is ‘n watersloot.
Met hul terugkoms het die dogtertjie gegly en in die modderwater beland. Haar nefie wou haar red, maar het ook ingeval en verdwyn. Beide het tragies verdrink en moes deur polisieduikers uit die water gehaal word.
Die drenkelinge se mammies is die susters Willa en Jennifer Louw, wat oorspronklik van Steinkopf is.
Kapt. Paul Swartbooi van die Nama’s, is familie van die Louw’s. Volgens hom het die twee se verdrinkings net weer ou wonde vanaf 1988 opgegrawe. Biza Louw is die ouer broer van die twee Louw-susters.
Biza het ongeveer 33 jaar gelede by Vioolsdrift by Noordoewer ook verdrink . Sy liggaam was nooit gevind nie, het Swartbooi swaarmoedig vertel.
“Hy het vir die staat gewerk en ‘n kanaal gebou. Hy het egter baie raaiselagtig in die kanaal verdrink. Ons het vir dae en later weke sy liggaam al langs die Oranje-rivier gesoek, maar nooit gevind nie. Destydse gebeure werk nou soos nagmerries op van die familie-lede.”
Intussen word verneem dat Willa (Robbi-Lee se ma), met sielkundige probleme sukkel, wat haar soos nagmerries volg. Vanaf Oktober verlede jaar was sy soos ene wat ‘n “loopgees” in haar gehad het.
Sy het byvoorbeeld in November ongeveer 130km na Vioolsdrift geryloop waar hulle broer, Biza, verdrink het, volgens Matthys.
“Hier het mense haar gevind waar sy vir ‘n volle dag net by dié plek gesit het.”
Willem Ryk (oud-inwoner) voer aan dat daar alreeds in die 1990’s iemand verdrink het, toe hy nog daar skoolgegaan het.
Volgens die munisipale bestuurder van die KhaiMa munisipaliteit, Obakeng Isaacs, het hulle Maandag die terrein gaan besoek.
“Ons oorweeg dringend verskillende opsies om die plek nou te beveilig. Die raad is ook besig om te kyk hoe om die families by te staan.”