Skip to main content

‘n Skietery by ‘n ANC vergadering in Driekoppies, Mpumalanga, het gelei tot die hospitalisasie van drie mense.

Die vergadering, waar lede veronderstel was om leiers vir wyk 24 te verkies, asook om leierskap vir die komende streek- en provinsiale verkiesingskonferensies te nomineer, het in ‘n nagmerrie ontaard nadat gewapende ANC-lede die vergadering binnegedring het. Ooggetuies vertel dat die mense net woes tussen mense begin skiet het voordat hulle eergister van die toneel af gevlug het.

“Daar word beweer dat drie ANC-lede omstreeks 11:00 by Driekoppies buite die stadion geskiet en gewond is en na die Shongwe-hospitaal geneem is vir mediese behandeling. Niemand is in hegtenis geneem nie. Die polisie is hospitaal toe om verklarings te bekom en sal daarna ’n saak aanteken,” sê Brig Selvy Mohlala, die polisiewoordvoerder in Mpumalanga.

Volgens ‘n ander ANC-lid, Donald Maphanga, is die party se lede ligtig om vergaderings by te woon vanweë die vrees dat geweld daar kan uitbreek.

“Hierdie mense is tydens ‘n ANC-vergadering geskiet en wat skrikwekkend is, is dat dit dieselfde groep mense is wat dieselfde ding in byna al die vergaderings doen. Dit raak skrikwekkend om die vergaderings by te woon,” het hy gesê.

Maphanga twyfel of die slagoffers vrywillig die skietery sal aanmeld by die polisie. Volgens hom vertrou die mense nie meer die polisie nie.

“Toe die skietery gebeur het, was die polisie teenwoordig. Hulle kom terug en help ons om sake oop te maak nadat hulle toegelaat het dat die skietery in hul teenwoordigheid plaasvind en nie ingegryp het nie,” het Maphanga beweer.

Mohlala het gesê hulle sal die bewerings ondersoek.

“Ons is nie bewus van daardie inligting nie, maar ons sal die bewerings dat beamptes daar was en toegekyk het sonder om te help, ondersoek,” het Mohlala gesê.

Sasekani Manzini, die ANC Mpumalanga-woordvoerder, het gesê hy het nie besonderhede oor die voorval nie en wag vir ‘n verslag van die Ehlanzeni-streek, berig die Sowetan.

Leave a Reply