Skip to main content

Op die oog af ‘n onskuldige watersloot, maar hier skuil die dood.

ISAAC CLOETE

‘n Dubbele slag het ‘n familie getref nadat twee kinders tragies verdrink het.

Die voorval het Saterdagmiddag op Pofadder in die Noord-Kaap gebeur.

Lizelle Matthys is die peetma van die dogter wat verdrink het. Sy het bewoë vertel dat die twee 12-jarige kinders, Robbie-Lee “Niesie” Louw en Henry “Manneman” Louw, na ‘n graf by die begraafplaas gestap het. Langs die begraafplaas is ‘n watersloot.

Matthys het harsteer verduidelik: “Toe hulle terug huis toe wou kom, het die dogtertjie gegly en in die modderwater beland. Haar nefie wou haar red, maar het ook ingeval en verdwyn.”

Volgens Matthys het die ander klonkie alles probeer om te help, maar moes later hulp gaan soek. Die polisie het later opgedaag en moes polisieduikers ontbied om die twee se liggame uit te haal.

Die twee 12-jarige kinders is oorspronklik van Steinkopf. Hulle bly nou op Pofadder by hulle ma’s en het basies saam grootgeword.

Beide Willa en Jennifer en is twee ongetroude Louw-susters. Hulle is stukkend en verslae.

Willa is die ma van Robbie-Lee. Sy het gesê: “My gevoelens na die tyding was onbeskryflik. Ek was nie eens bewus dat hulle na ‘n graf gaan kyk het nie.”

Jennifer is die ma van Henry. Volgens haar het ‘n familielid aangehardloop gekom en die tragiese nuus kom meedeel.

Die gemeenskap is boos oor die voorval. Daar was al baie lewens by die watersloot geëis, volgens hulle. Vermoedelik word sulke slote deur die padwerkers uitgegrawe, maar net so gelos, het ‘n bron vertel.

Die waterslote is glo ‘n onvermydelike swemplek vir die energieke jeug, wat te min het om te doen, veral oor naweke, word beweer.

‘n Gemeenskapleier op Pofadder het anoniem vertel dat hulle vreeslik sukkel om kinders van die betrokke  watersloot weg te hou.

“Die kinders by ons inrigting gaan swem ook daar ten spyte van waarskuwings oor die gevare. Hopelik sal die owerhede nou aandag hieraan gee sodat die plek ontoeganklik vir hulle is.”

Kapt. Paulus Swartbooi van die Nama’s, het hartroerend en driftig gesê dat hy die dood van die twee kinders betreur. Volgens hom moet dit nooit weer gebeur nie.

“Die KhaiMa munisipaliteit moet hand in eie boesem sit en ons woongebiede veiliger maak.Ons kinders kan nie so doodgaan nie. Dis nie reg nie. Ook behoort hulle die twee gesinne te ondersteun”

Volgens kapt Sergio Kock, polisie-woordvoerder, word die twee se verdrinking geregtelik ondersoek. Persone met inligting oor die voorval kan met speur/konst John Michael van Schalkwyk in verbinding tree by 082 4949982.

Leave a Reply

error: Content is protected !!