Diplomatieke pogings om ‘n Russiese inval in die Oekraïne af te weer, kon nie die spanning oor die naweek verlig nie nadat die Biden-administrasie gewaarsku het dat ‘n Russiese aanval enige oomblik kan plaasvind. Biden het belowe om op enige aggressie “vinnig en beslissend te reageer”.
Amerika en sy Westerse bondgenote skarrel rond om, wat hulle ‘n vinnig verslegtende situasie noem, te ontlont. Dìt nadat Rusland ongeveer 130 000 troepe en toerusting langs die grens van Oekraïne byeen gebring het. Boonop het diplomate en burgers van Westerse lande Kiev die afgelope dae begin verlaat, berig The Washington Post.
Die Oekraïense president, Volodymyr Zelensky, was gister telefonies met Biden in gesprek waar laasgenoemde weer die VSA se verbintenis om die Oekraïne by te staan, herhaal het.
Biden se gesprek met die Russiese president, Vladimir Poetin, vóór die een met Zelensky, kon nie hond haaraf maak nie.
“Die twee leiers het saamgestem oor die belangrikheid daarvan om voort te gaan om diplomasie en weerstand na te streef in reaksie op Rusland se militêre opbou op die grense van die Oekraïne,” het die Withuis in ‘n kort verklaring gesê na aanleiding van die oproep van 51 minute tussen Biden en Zelensky.
Na verwagting sal die Duitse kanselier, Olaf Scholz, hierdie week na Kiev en Moskou reis om te probeer om ‘n krisis af te weer. Hy sal vandag met Zelensky en môre met Putin vergader.
Die Britse minister van verdediging, Ben Wallace, is van mening dat dit “hoogs waarskynlik” sal wees dat Rusland ‘n aanval op die Oekraïne sal deurvoer volgens sy gesprek met Brittanje se Sunday Times.
Intelligensieverslae van die VSA dui daarop aan dat Rusland slaggereed is om Oekraïne in te val.