‘n Span van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Vrydag, na ‘n vinnige reaksie op ‘n transitorooftog wat in Westonaria, Gauteng, gepleeg is dertien rowers vasgetrek.
Na berigte het ‘n groep diewe, tussen die ouderdomme van 21 en 50 jaar oud, ‘n kontantwa aangeval en Vrydagoggend met ‘n onbekende bedrag geld op die R501-pad naby die N12-hoofweg gevlug.
Die polisie het die vier wegkomvoertuie, wat teen ‘n hoë spoed langs die R501 gery het, opgemerk voordat hulle in verskillende rigtings in Carletonville uiteengespat het.
’n Skietgeveg het tussen die verdagtes en die polisie ontstaan wat daartoe gelei het dat een beampte gewond is.
Die skietgeveg het nie die vasberade polisiebeamptes gekeer om die verdagtes na te sit nie.
‘n Ondersoek het hulle na ‘n geïdentifiseerde perseel in Geraniumstraat in Carletonville gelei waar een van die wegkomvoertuie gevind is. ’n Onbekende bedrag geld is in die voertuig gevind. Drie mans en ‘n vrou is gearresteer nadat die persele deursoek is. Daarna is nog ses rowers aangekeer. Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat een van die wegkomvoertuie glo in April 2021 in Elsburg gekaap is.
’n Toyota Quantum, wat vermoedelik een van die wegkomvoertuie was, is opgemerk en drie verdagtes is in Krugersdorp in hegtenis geneem. Die polisie se soektog het hulle na ‘n plaaslike werktuigkundige gelei waar ‘n ander voertuig, ‘n Hyundai Tucson wat ook as ‘n wegkomvoertuig by die misdaadtoneel gebruik was, gevind is. Die span is toe na Bambathastraat in Kagiso waar ‘n hommeltuig en ‘n polisiereflektorbaadjie gevind is.
Die verdagtes, onder wie ‘n polisiebeampte wat nie aan diens was nie en ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van gewapende roof, poging tot moord op ‘n polisiebeampte, die besit van ‘n gekaapte voertuig, die besit van onder meer gesteelde eiendom, besit van plofstof en die besit van dagga.
Die polisie-ondersoeke duur voort.