Volgens dr. Marina Bredell, ‘n veearts by die Kranskop Dierekliniek, kommunikeer honde deur te blaf.
“Net soos party mense heelwat meer praat as ander, praat sekere honde ook meer as ander,” het sy gesê.
Worshonde is glo heel bo-aan die lys, met Foksterriërs en Jack Russels kort op hul hakke. Moenie van die klein Yorkshire Terriers vergeet nie.
Volgens Bredell wil honde instinktief hul eienaars beskerm en daarom blaf hulle vir ander mense of diere wat in die straat verbyloop, of vir vreemde geluide. Haar raad aan honde-eienaars is om vroegoggend met die honde te gaan stap, draf of speel en daarna vir hulle kos te gee sodat hulle deur die dag rustiger is.
“Almal weet ’n vol pensie laat die ogies toeval.”
Dit is ook raadsaam om honde bedags aan die agterkant van die huis te hou en om eerder die areas waar baie beweging is te vermy.
“Maak seker jou troeteldiere het ’n gerieflike lêplek waar hulle beskut is teen reën en koue,” het Bredell gesê.
“Die beste is om honde saans binne in die huis te laat slaap sodat hulle nie die bure steur nie.”
Honde wat verveeld of eensaam is, is ook geneig om heeldag te blaf.
Troeteldiereienaars moet ook besef “werkshonde” soos skaaphonde en jaghonde het baie meer fisieke oefening en aandag as kleiner honde nodig.
“Soms help dit as die hond ’n maat het om mee te speel, want anders sal hulle uit pure frustrasie blaf en vernielsigtig raak,” het sy gewaarsku.
Bredell het gesê sekere honde ervaar skeidingsangs wat beteken dat hulle onophoudelik blaf wanneer hul eienaars bedags by die werk is of vir ’n naweek weggaan.
Volgens haar is daar ’n soort medikasie, soortgelyk aan antidepressante, vir sulke honde wat verligting kan bring.