Skip to main content

Ofskoon pres. Cyril Ramaphosa se sesde staatsrede gisteraand ‘n paar elemente gehad het wat Suid-Afrikaners positief kan stem, was die eerste indruk een van wanhoop en moedeloosheid.

Ons is diep in die moeilikheid en Suid-Afrikaners sal verskoon word as hulle glo die meeste van die beloftes in die president se toespraak was weer slegs hol woorde.

Ten minste het hy nie weer ‘n blink prentjie probeer skep nie.

Ramaphosa het gesê beurtkrag maak werkloosheid erger – asof ons ‘n president sowat R4 miljoen per jaar (hy is een van die bes besoldigde presidente in die wêreld) moet betaal om die ooglopende raak te sien.

Volgens hom het lae ekonomiese groei en investering in die land sowel as onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening die werkloosheidsyfer laat toeneem. “As daar een ding is waaroor ons almal saamstem, is dat die huidige situasie waarin ons nou is, van diepe armoede, werkloosheid en ongelykheid, onaanvaarbaar en onvolhoubaar is,” het hy gesê.

Hy het ook genoem dat beleggers afgeskrik word deur die stand van elektrisiteit- en watervoorsiening en die toestand van spoorvervoer. “Die land se vermoë om werk te skep is teruggehou deur ’n onbetroubare voorsiening van elektrisiteit en die hoë koste om sake te doen,” het hy gesê.

Mens kan tussen die lyne lees dat hy grootliks na die privaatsektor kyk om werk te skep omdat die regering nie meer planne het nadat al hulle kaders in staatsdiensposte aangestel is nie.

Hy het ook die algemene agteruitgang van staatsinfrastruktuur beklemtoon, onder meer die swak toestand van paaie en brûe wat toegang tot markte, werksgeleenthede en maatskaplike dienste behoort te verskaf.

“Kinders moet oorlopende riviere trotseer om by skole uit te kom en motoriste moet onbegaanbare paaie aandurf om die volgende dorp te bereik. Mense ry langs die paaie, want die paaie is so sleg.”

Hy het ook die toestand van hawens uitgelig as ‘n “hindernis vir vooruitgang” “Ons het doeltreffende hawens nodig om produkte uit te voer. Vars produkte kan nie vir dae – selfs weke – wag terwyl hulle in die terminale vassit nie.”

Volgens Ramaphosa gaan die R350 Covid-toelaag langer beskikbaar wees, maar daar is nie geld vir ‘n basiese toelaag nie.

Die polisie se beplanning met die Julie-onluste was swak en daar was swak kommunikasie tussen die staatsveiligheidsagentskap en SAPD, sê die president. Hy meen die kabinet moet algehele verantwoordelikheid neem want die regering se hantering van die situasie “was onbekwaam”.

Daar is ook min op die opvoedkundige front om oor opgewonde te raak. Ramaphosa erken dit sal dekades neem om ‘n bruikbare skoolnetwerk te bou. “Ons moet nog sowat 2 500 skole in ons land bou. Dit sal ons waarskynlik 75 jaar neem met huidige meganismes.”

Ramaphosa het genoem dat inperkingswette binnekort kan wegval maar dat die Covid-pandemie dan deur gesondheidswetgewing gereguleer sal word. Die einde van maskers is dus nog nie noodwendig in sig nie.

Hy het egter weer die lof van inentings besing, wat daarop kan dui dat die regering nog nie van die stommiteit van verpligte inentings afgesien het nie.

Die enigste ligpuntjie is dat die regering daaraan werk om dagga as landbougewas sowel as mediese en tekstielproduk volkome te wettig en te ontgun. “Ons sal die beleid en regulatoriese raamwerk vir industriële dagga hersien om die groot potensiaal vir belegging en werkskepping te ontsluit. Trouens, ons kan meer as 130 000 werksgeleenthede skep deur hempproduksie.”

 

 

One Comment

Leave a Reply

error: Content is protected !!