Die polisie het gister inligting ontvang van ‘n vragmotor wat by ‘n Ford-aanleg in Silverton gesteel is.
Die vragmotor het ‘n vrag met motoronderdele ter waarde van 1,2 miljoen rand vervoer.
Inligting is opgevolg waarna die polisie die vragmotor by Casonweg 86, Dunswart, Boksburg gevind het.
Die verdagtes het van die perseel gevlug en in ‘n nywerheidsgebied verdwyn. Die polisie het daarin geslaag om een verdagte te arresteer. Hy is na bewering die eienaar van die onderdelewinkel waar verskeie van die gesteelde voorraad reeds in sy stoorkamer afgelaai was.
Die verdagte het bevestig dat hy R300-000 sou betaal het vir die gesteelde voorraad. Ford-aanleg Silverton is gekontak en hulle die voorraad en die gesteelde trok uitgeken as hul eiendom.
Die verdagte is gearresteer vir die besit van ‘n gesteelde motorvoertuig en die besit van gesteelde goedere. Hy word by die Boksburg Noord SAPD aangehou.
Die ondersoek duur voort.