Skip to main content

ISAAC CLOETE 

Moedelose inwoners van ‘n plattelandse dorpie voel dat die noodlot teen hulle gedraai het.

En as karma teen jou gedraai het is die pad vorentoe vol slaggate. Vir Koingnaas se belastingbetalersvereniging (KBV) was gebrekkige dienslewering van die Kamiesberg munisipaliteit (KBM) eers ‘n doring in hulle vlees. Veral rioolwater het vir lang tye in baie inwoners se erwe gevloei en hier opgedam. En paaie verval.

Hulle het toe besluit om van die dienste self oor te neem, en die KBM hierna te  faktureer. In Desember, 2021 moes hulle voorsitter, Johan Gräbe, egter in die hof gaan staan hieroor.

Hy het gesê: “Sestig dae na ‘n raadsvergadering moet munisipaliteite hulle hul tariewe afkondig. Kamiesbergmunisipaliteit het dit vir sewe jaar uit nege jaar nie gedoen nie.

“Ons het toe besluit om slegs die krediet op te neem wat die hoogerregshofbevel ons toelaat om te gebruik. KBM skuld die hele gemeenskap dus sewe jaar se belastinggeld.

‘n Verdere terugslag was toe regter Mpho Mamosebo intussen beslis het dat die KBV nie by magte is nie om dienste self oor te neem. Ook kan hulle nie hierna die KBM boonop dagvaar vir kostes wat hulle op hul eie aangegaan het nie.

Kragtens die tussentydse interdik is beveel dat Gräbe en sy span hulle werksaamhede dadelik moet stop. Gräbe en die KBV staan die bevel nou teen voordat dit permanent gemaak word.

Gräbe was die man wat die inisiatief geneem het om hul dienstegelde terug te hou.  Hy het ‘n groepie van 35 bymekaar gekry en byvoorbeeld begin om slaggate en ligte te herstel met van die geld.

Ongeveer 600 liter verf is uitgeverf op sypaadjiese en straatlamppale.

En 50 ton materiaal binne drie weke deur die groepie verskuif. Verder was stukkende rioollekkasies ook reggemaak, vertel hy.

Volgens hom was hy op 17 Desember verlede jaar weens ‘n hofbevel gelas om die volgende dag in die hof te verskyn. Maar alreeds die vorige 18 maande het hy die KBM per briewe gewaarsku en vermaan om hulle munisipale dienste te verskaf, anders sou hulle dit oorneem. Sonder sukses.

Hy sê-vra: “Die KBM het ongeveer R21 milj vanaf De Beers Myne ontvang. Hiervan moes R13 milj gebruik word om strate ens. reg te maak. Waars dié geld?”

Rufus Beukes, munisipale bestuurder van die KBM, het gesê dat hulle eers hulle regspan wil raadpleeg voordat hulle ‘n mening oor die aangeleentheid kan maak.

Volgens Sarel Stone van AfriForum (Springbok), kan die publiek nie hul dienstegelde terughou nie. Hulle kan wel aansoek doen om byvoorbeeld slaggate te help herstel.

Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU) help die KBV in hul saak. Volgens hom kan dit ‘n baie lang en duur hofstryd wees. Volgens hom moet munisipaliteite hulle tariewe vooraf publiseer. KMB het dit nie gedoen nie. Hy het gesê: “Nie een munisipaliteit onder ANC beheer het nié diensleweringsprobleme nie. Hierdeur gaan die land ten gronde.”

Op 11 Maart kom die saak weer voor in Kimberley se hooggeregshof.

Vir geldelike bydraes kan Gräbe bereik word by: johan@novtel.com

One Comment

  • Willem says:

    Snaaks hoe jy basies gedwing word om munisipale belastings te betaal, sonder enige dienste daarvoor, en dan beslis die regter (kan mens die persoon ‘n regter noem?) nog in die munisipaliteit se guns. Hoe de duiwel werk dit?

    Nee wat, tyd om die land terug te neem op die basis van die artikel.

Leave a Reply