Skip to main content

Kaap deur Hans Pienaar

Die hoofkarakter, Marnus, is ʼn ondersoekende joernalis, ʼn libtard met struggle credentials, hoewel een van die karakters tereg opmerk dat geen witmens struggle credentials het nie.

In sy jeug het hy ʼn beweging op die been gebring om teen diensplig te agiteer en toe gesê as die toekomstige ANC-bewind nie uitwerk nie, sal hy en sy vriende maar die Kaap afstig en daar gaan woon.

Daardie uiting kom byt hom aan die hakskeen en plaas hom jare later in die visier van ʼn paar groepe, soos die Intelligensiediens, die Suidlanders en groepe met verwante maar meer gematigde oogmerke.

Op ’n meer persoonlike vlak betrek dit die dinamika en verhoudings tussen die karakters; jare lange vriendskappe, verraad, ontrou en ware liefde, met humor en hart.

Hans Pienaar het naam gemaak as ʼn skrywer in verskillende genres: Poësie, prosa, drama en ondersoekende joernalistiek, in Afrikaans en Engels.

Hy het sy digbundels meestal self uitgegee en veral die eerste, Die taal van voëls, het aandag getrek. Sy roman Die Generaal het tweede prys in NB se Groot Romanwedstryd gewen en is deur hulle uitgegee.

Sy boek Die derde oorlog teen Mapoch, ʼn ondersoek na die staat se geheime oorloë teen die Ndebele, verower in 1992 die Rapport-prys vir nie-fiksie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!