Skip to main content

SONJA BROWN

Die intieme vertoning wat die alom bekende sangeres, Karen Zoid, gisteraand met haar gehoor in die Barnyard by Emperors Palace, gedeel het, was ‘n ongelooflike ervaring. Aanhangers het aan haar lippe gehang en haar teenwoordigheid ingedrink met blink oë.

As ‘n maagd in terme van Zoid-konserte, was ek aangenaam verras oor … wel, alles.

Daar is net iets omtrent die vrou wat mense gevange neem sodra sy haar mond oopmaak. Sy maak die gehoor deel van haar vyfstervertoning saam met die kitaarspeler en liedjieskrywer Henry Steel, ‘n man wat glo drie-uur in die oggend met ‘n vereboa dans, en praat met almal in die gehoor asof hulle familie is.

Die vrou kan letterlik enige genre sing. Sy het selfs ‘n Elvis lied, Heartbreak Hotel, met haar eie ‘twist’ daarop aangebied, en ek moet bieg, ek hou meer van die Zoid weergawe.

Ek het werklik hard probeer om ‘n gunsteling lied wat sy gesing het uit te kies, maar ek kon nie.

Haar gestremde broer, Lee van Appeldoorn, was ook in die gehoor.

“Lee was op 18-jarige ouderdom in ‘n karongeluk. Dokters het vir ons gesê dat hy sou sterf. Hy was daarna vir maande in ‘n koma, en die dokters het nie verwag dat hy normaal sou wees as hy dit sou oorleef nie.”

Sy het sy storie met die gehoor gedeel: “Ek het vir hom in die hospitaal gaan kuier, en ek het langs hom gaan sit en vir hom gesê dat die dokters die masjiene wou afskakel. Ek het vir hom gesê as hy hemel toe wil gaan, kan hy. Ek sou hom hopelik eendag daar sien. Maar as hy nie reg is om hemel toe te gaan nie, moet hy my hand druk. En toe druk hy my hand. Niemand wou glo dat hy dit gedoen het nie. Almal het dit toegeskryf aan die trauma waardeur ek is en dat ek my verbeel het. Ek het ook begin twyfel, maar het besef dat hy wel my hand gedruk het.

“Ek het daarna vir hom gesê die dokters is gereed om die masjiene af te sit, en as hy nie wil doodgaan nie, moet hy sy oë oopmaak. En hy het! Hy het sy oë oopgemaak!

“Dokters het gesê dat hy nooit sal kan loop of praat of self sluk nie, en ook niks vir homself kan doen nie. Vandat hy sy oë oopgemaak het, het hy dokters verstom en alles gedoen wat hulle geglo het hy nie sou kon doen nie.

“Hy is nou 41 jaar oud, en het begin rolbal speel by die Bedfordview Bowling Club. Hy speel saam met ongestremde mense en vaar heel goed. Inteendeel, hy doen so goed dat hy die president van die rolbalklub uit die span gespeel het. Lee gaan nou Bedfordview in Sabie Sabie verteenwoordig in ‘n toernooi; die enigste gestremde speler in ‘n normale, funksionele span. Ek is trots op hom. As hulle goed doen in Sabie Sabie, sal hy kan meeding vir provinsiale kleure in rolbal. Hy is my inspirasie.”

Die ‘kuier’ nadat die vertoning oor was, het aanhangers se aand gemaak. Sy het gemoedelik met almal gesels, werklik belang gestel in wat die mense te sê het, en saam met elkeen wat ‘n foto saam met haar wou hê, hand om die lyf gestaan en geglimlag.

Een paartjie wat in die gehoor was, Johan en Rialda Zeelie, is gróót Zoid aanhangers. Die man het selfs lirieke uit haar een liedjie, wat ook hul troulied was, op sy bobeen laat tattoeëer, en vir haar ‘n foto gewys van ‘n kopstuk in hul slaapkamer met dieselfde lirieke daarop.

“Ons kan nou maar doodgaan, want ons is klaar in die hemel,” het die paartjie gelag nadat hulle met Karen gesels het en foto’s saam met haar geneem het.

Zoid is ‘n vermaaklikheidster in elke sin. Elke liewe persoon wat die vertoning bygewoon het, het dit begeesterd verlaat. Ek is inderdaad aan die Zoid hoek, en sy kan my maar inkatrol.

Leave a Reply

error: Content is protected !!