Nadat die tweede verslag van die Zondo-kommissie vrygestel is, wonder almal wat die pad vorentoe inhou.
Sedert Jacob Zuma die presidentstoel ingeneem het, was daar ‘n skerp afname in die integriteit van die staat én die ANC. Die regerende party was agter toe deure as ‘n ‘bende’ afgemaak veral nadat verskeie sluipmoorde onder aktiviste begin het. Ondersoekende joernaliste het teen 2017 begin ondersoek instel oor hoekom dit moontlik was vir die staat se koffers om geplunder te word deur mense wat duidelik nie veel van sakeondernemings of hoe om ‘n staat te bestuur nie, geweet het nie.
Al wat die Zondo-kommissie se verslae gedoen het, was om bekend te maak wat almal reeds geweet of vermoed het. Al verskil was dat alles in detail op skrif bekend gemaak is. Die morele aansien van die ANC was as immoreel bekragtig. Hul reeds swak beeld is onherstelbaar geskaad. Malusi Gigaba, Brian Molefe en Lynne Brown se reputasies is onherstelbaar beskadig. So ook die aansien van Bain & Company wat nou – nes KPMG, McKinsey en Bell Pottinger voor dit – ernstig geskaad is.
Vorouitsigte van hervorming van die ANC is omtrent nul. Meeste van die leierskap en die kabinet is vrot. Die feit dat iemand soos Zweli Mkhize moontlik die premier van KwaZulu-Natal kan word, is ‘n duidelike teken dat die party nie belang stel om te verander nie. Hulle het nie die wil om die roofsugtige draad wat deur die party loop te knip nie, lui ‘n berig in allAfrica.
Daar is geen meer optimisme dat die Nasionale Vervolgingsgesag doeltreffend sal optree teen korruptes nie. Hoekom sou dit verander na jare se straffeloosheid vir misdade deur staatsamptenare wat openbaar gemaak is? Die tronke sal steeds net ‘n bêreplek wees vir veramdes, sommige wat reeds jare wag om skuldig bevind te word aan verskeie misdade.
Indien selfs net een leiersfiguur in die regering suksesvol vervolg word, sal dit niks aan die mandjie vol vrot regeringsappels soos die ANC, EFF en Patriotiese Alliansie verander nie.
Party stem saam dat Zuma uit die weg geruim is, maar Zumaisme floreer in volle glorie voort. Roofsugtige dade van persoonlike akkumulasie word slegs gemasker met ‘n fasade van radikale nasionalisme. Daar is geen twyfel dat leiers ‘n reuse rol speel in die vorming van ‘n organisasie se kultuur nie. Die wortels van die verrotting van die staat se integriteit strek van die hoof tot by die staat se basis.
Is die mobilisering van die weermag verlede week in die Jika Joe informele nedersetting in Pietermaritzburg om betogings te stuit dìt wat vir ons land voor lê?
Ons land benodig ‘n inklusiewe, demokratiese vrede, ‘n staat met integriteit en kapasiteit, maar om dit reg te kry sal beslis nie maklik wees nie. Ander gekoloniseerde lande kon dit ná 50 jaar of meer nie regkry nie.