Toe ek gistermiddag by die ambassade van die Staat van die Afrika-Diaspora wegry, was een oorweldigende bewustheid in my tuisgemaak: daar is helde in hierdie land waarvan niemand ooit hoor nie omdat geregtigheid vir hulle belangriker as erkenning is.
Ambassadeur Henry William McCarter is so ‘n held.
Hy is ‘n gebore rebel, maar is beslis nie die jong, opstandige takhaar wat mens in gedagte het as jy aan ‘n rebel dink nie.
Inteendeel, hy is die absolute toonbeeld van opvoeding en beskaafdheid. Sy grys hare en baard is netjies gekap en daar pryk ‘n goue La Grande Classique de Longines aan sy linkerpols. Sy blou pak pas sy kort, regop postuur perfek (“dis my uniform”), maar as jy in sy staalblou oë kyk, besef jy die 71 somers wat hy agter die blad het, het sy veggees nog lank nie geblus nie.
Die deftige ambassade in Morningside met die broodbome in die tuin en die Persiese matte op die vloer het hom allermins sag gemaak. Hy baklei teen alles wat verkeerd is. Die regering, die geldmafia, verpligte inentings, korrupsie… “Ek is hiermee besig … maar dis nog vertroulik. En daaroor … maar jy mag nog nie oor dit skryf nie…”
Hy het in Johannesburg grootgeword, maar later in onder meer Oostenryk en Brittanje gewerk. Sy reise het hom regoor die aardbol geneem en hy het oral oor die Afrika-kontinent gewerk en in die proses relevante en diep verhoudings oor die geografiese skeidings heen bevorder.
Hy het 40 jaar in sakeleierskap deurgebring. Van sy vorige sakeondernemings sluit in film- en musiekproduksie as Uitvoerende Vervaardiger van rolprente, advertensies en musiekvideo’s, die drukkerybedryf sowel as huidige cannabis-ondernemings in Afrika.
Hy is in 2018 aangestel om die pos van ambassadeur vir die Staat van die Afrika-Diaspora op te neem aangesien hy goed vertroud is met politiek en interaksie met staatsamptenare en regeringsadviesdienste.
Henry is bedrewe in die Regte en het ‘n groot rol daarin gespeel dat dagga-wetgewing in nege Afrika-lande gewysig is.
“Dis ‘n gewas wat ‘n geweldige bydrae tot opkomende ekonomië kan lewer. Magtig man, hulle het dit sowaar reggekry om ‘n onkruid regoor die wêreld te verbied – en dit ‘n onkruid wat derduisende mense se lewens kan verbeter deur op verskillende maniere geld in te bring. Bid jou dit aan – wat gaan jy sê as die regering skielik kakiebos wil verbied?”
In Julie 2019 is hy aangestel as lid van die Liberiese Ekonomiese Ontwikkelingskomitee, wat die ontwikkeling van Wes-, Oos- en Sentraal-Afrikaanse ekonomieë sal insluit. Dit is sy taak om deurlopend betrokke te raak by raadgewende en regeringsinsette.
Die ambassadeur teug aan ‘n sigaret en drink die soveelste koppie sterk swart koffie terwyl hy die punte op sy CV nonchalant aframmel: hy is ook voorsitter van die People’s Freedom Council of Southern Africa en voorsitter van die Pan-African Financial Oversight Committee en spesiale gesant aan die Federasie van Afrika-monarge.
Intussen het hy as sake- en regsman afgetree en verdiep hom deesdae in pro-bono familie-, straf- en eiendomsregshulp aan benadeeldes.
Sy hooffokus is die pogings om humanitêre en ekonomiese fondse wat deur regerings geblokkeer is, vreedsaam vry te stel.
Sy betrokkenheid by projekte regoor die kontinent laat hom dikwels met regerings koppe stamp. Daar is al op hom geskiet en daar was al pogings om hom om die lewe te bring.
Maar dit stuit hom nie. “Het ek jou vertel van hierdie ding waarmee ek besig is? Maar dis nog nie vir die algemene publiek se kennisname nie…”
“Is jy nie bang nie?” vra ek hom.
Hy gee net daai stout glimlag van hom. “Ons is in ons kanon in as ons nie opstaan teen tirannie en verdrukking nie. Ek is ‘n ewige optimis wat glo daar is geen mislukking nie, net terugvoer. Die enigste mislukking is om niks teen onderdrukking te doen nie.”
Hy veg onvermoeid voort om stemlose mense in Suid-Afrika ‘n stem te gee. “Ek wil ‘n verenigde Boerevolk en die Zoeloenasie laat saamwerk. Dis mense wat ‘n bitter sterk groep kan maak – dis mense wat wedersyds respek vir mekaar het.”
Ek skud my kop toe hy nog ‘n sigaret, nog ‘n sterk koppie koffie aanbied. “Nee dankie, ek moet ry om die middagverkeer vry te spring.”
Ek strompel uit sy elegante huis tot waar my motor geparkeer is. Ek kan nie eers saam met hierdie klipharde 71-jarige sigarette oprook of koffie drink nie. Niemand wat ek ken sal saam met hom kan werk nie.
Want dit vat yster in jou are om ‘n gebore rebel te wees.