Die 17-jarige, Hlompho Mbetse wat ook bekend is as CJ is Saterdagaand buite die Madison Avenue-nagklub in Wesselweg, Rivonia, met ‘n skerp voorwerp doodgesteek. Hy was ‘n graad 11-leerling aan die King Edward VII School (KES) in Houghton, Johannesburg.
Volgens Ross Campbell, woordvoeder van ER24, het paramedici omstreeks 22:45 op die toneel aangekom en het die tiener in die straat gelê met ‘n steekwond aan sy bors.
“Hy het geen teken van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.”
Die Madison Avenue-nagklub het in ‘n verklaring gesê Mbetse was in ‘n geveg in die parkeerarea betrokke en dat van sy veiligheidspersoneel tussen beide getree en die situasie ontlont het. Daar word beweer die geveg het oor ‘n vervalste ID-dokument gegaan wat Mbetse gebruik het om toegang tot die klub te verkry.
Volgens berigte het die 18-jarige verdagte wat in die verband met die voorval in hegtenis geneem is gister in die hof verskyn.