Dit is ‘n warm somersdag in Reiger Park. Kinders wat daar woon het twee opsies wanneer hulle wil afkoel – hulle kan óf die openbare swembad ‘n paar kilometer verder besoek en R5 betaal om in te kom, óf hulle kan die gevaarlike mynhoop wat in privaat besit is besoek om net ‘n hanetreetjie van hul huise af in die besmette reënwater te baljaar. Dit staan plaaslik bekend as die Dooms.
Dit is hier waar die 7-jarige Wyatt Trollip en sy 9-jarige broer, Nasri, drie weke gelede dood is.
Chezelle Peters het gesê haar kinders het verlede maand saam hul vriende na die nabygeleë mynhoop gegaan om te swem. Daar was geen volwasse toesig nie en die kinders het sonder hul ouers se medewete daarheen gegaan.
“Ek het altyd gesê: ‘Moenie na die Dooms gaan nie, daardie plek sal jou insluk’ en ironies genoeg is dit wat gebeur het,” het Peters gesê.
Na wat verneem word, het haar 9-jarige seuntjie sy eie lewe opgeoffer om haar 7-jarige seun wat in die sand begin sink het, te probeer red.
“Nasri het nie verniet gesterf nie, hy het sy broer probeer help – dis wat ek altyd vir hom sê: ‘pas jou broer op’ en hy het gedoen wat sy ma gesê het,” onthou Peters.
Die verpletterde ma soek nou geregtigheid en dring daarop aan dat die tragedie voorkom kon word as die gebied beveilig was.