Skip to main content

Die 78-jarige Gillie Fick het die oggenddiens by die AP Kerk in Louis Trichardt bygewoon, waarna hy teruggery het na sy plaas Sodom naby die Mara Navorsingstasie. Volgens sy dogter, Karin Fick, is die Vivopad baie sleg en vol slaggate. “My pa moes ‘n slaggat getref het, want die een wiel was heeltemal afgebreek. Die voertuig het gerol en hy is vermoedelik op slag dood.”

Gillie se ouers, Gesina Caterina en Daniël (Danie) Francois Fick, was jarelange inwoners van die Dendron omgewing. Sy pa was oorspronklik van Brandfort en sy ma was ‘n onderwyseres op Dendron. Gillie is op 28 Junie 1943 in Pietersburg gebore en was in Dendron op laerskool. Hy het in 1961 sy skoolloopbaan by die Hoër Landbouskool Brits voltooi. “Verlede jaar was hy en sy broer Danie (toe 81 jaar) onderskeidelik die tweede- en derde-oudste Oud-Lantie maats,” vertel Karin.

Huldeblyke stroom van oraloor in.

“Dendron Boerevereniging sal oom Gillie Fick onthou as een van ons getrouste ondersteuners van ons veilingskraal. Hy het vir baie jare sy jongbeesveiling by Dendron Boerevereniging gehou, waar sy uitstekend-geteelde Bonsmaras kopers van heinde en ver gelok het. Oom Gillie was ‘n trotse en  lojale TLU SA lid, wat baie gedoen het vir die oprigting van ons veilingskraal. Ons sal hom onthou as ‘n man van integriteit, iemand wie se ja sy ja gebly het.

Hy word oorleef deur sy kinders Karin en Derick Fick, kleinkinders asook agterkleinkinders.

Leave a Reply