Die Gautengse polisie en sekuriteitswagte van DBK Risikobestuur het ses verdagtes in hegtenis geneem en agt vuurwapens teruggekry kort nadat twee winkels in Soshanguve Crossing Mall naby Pretoria, Sondag beroof is. Daar is beslag gelê op goedere ter waarde van meer as R200 000-00.
In die eerste rooftog word daar beweer dat sowat 10 gewapende mans ‘n winkel by Soshanguve Crossing Mall binnegegaan het waar hulle werknemers met vuurwapens aangehou en selfone, skootrekenaars, klere en ‘n onbekende bedrag kontant geneem het. Die polisie en private veiligheidswagte het die leidrade opgevolg en die verdagtes in Orchards, naby Pretoria gevind. Die verdagtes het skote op die polisie afgevuur en ‘n skietgeveg het gevolg. Een verdagte is noodlottig gewond en die ander twee is in hegtenis geneem.
In die tweede voorval word beweer dat drie gewapende mans by ’n winkel ingestorm het en sowat 40 nuwe selfone geroof het. Weereens het die span, bestaande uit lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en DBK Risikobestuur, inligting opgevolg en drie verdagtes gearresteer. Daar is ses ongelisensieërde vuurwapens en meer as 35 selfone in hul besit gevind.
Die polisie-ondersoek duur voort.