Skip to main content

Dobbelaars is skrik op die lyf gejaag toe ‘n brand laatmiddag by Carnival City in Brakpan uitgebreek het.

Die perseel is inderhaas ontruim totdat die brand onder beheer gebring is. Groepies mense het oral rondgestaan en geweier om huis toe te gaan.

‘Carnival City kan alle gaste gerusstel dat die brand wat vroeër vanaand uitgebreek het na ongeveer 15 minute ten volle geblus is en nie na die binnekant van die gebou versprei het nie.

‘Die brand, wat buite die hoofingang by die port cochere plaasgevind het, is in daardie area bedwing.

‘Owerhede het toestemming gegee dat die casino heropen kan word, maar gaste word versoek om die Welkomsentrum-ingang te gebruik.

‘Alhoewel video’s wat op sosiale media gedeel word, ‘n gevoel van ‘n groot brand oordra, was dit nie die geval nie,’ lui ‘n media-verklaring.

‘Die presiese oorsaak van die brand moet nog vasgestel word, maar Carnival City kan bevestig dat dit nie deur ‘n opsetlike of kwaadwillige daad veroorsaak is nie.’

“Die brand het so drie ure terug uitgebreek. Dis jammer die brand is geblus,” sê Hettie, ‘n Brakpan inwoner wat nie haar van wou verstrek nie. Sy wou ook nie uitbrei oor haar stelling nie.

Manogari Moonsammy van Endangered Citizens SA het die plek waar die brand ontstaan het, bevestig. “Dit is nou onder beheer, en die casino is reeds weer net na agt uur vanaand oopgestel vir Carnival City Casino se klante.

“Daar is skade aan die gebou se struktuur en aan die toring, maar dit is nie lewensgevaarlik nie. Die brand het vir ‘n kort rukkie weer opgevlam maar is nou heeltemal geblus.”

Leave a Reply