Ernst Lichtenstrasser (60), ’n voormalige dosent by die Tsumeb-kampus van NIMT, wat beskuldig word van ‘n dubbel moord, se borgtogaansoek is eergister deur regter Claudia Claasen in die hooggeregshof in Windhoek van die hand gewys.
Dit is Lichtenstrasser se derde aansoek om borgtog, en hy het dit hierdie keer gebasseer op grond van ‘nuwe feite wat aan die lig gekom het’. Hy word daarvan aangekla dat hy glo Eckhardt Mueller en Heinz Heimo Hellwig, wat onderskeidelik die uitvoerende direkteur en adjunkdirekteur van die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (NIMT) op 15 April 2019 by Arandis doodgeskiet het.
Sy aanklagte: twee van moord, twee van die besit van ‘n vuurwapen sonder ‘n lisensie, asook die besit van ammunisie sonder ‘n lisensie, diefstal en die ongemagtigde verskaffing van ‘n vuurwapen en ammunisie en regsverydeling of belemmering van die gereg.
Volgens Lichtenstrasser beweer hy in sy nuutste borgtogaansoek dat Covid-19 sy verhoor negatief vertraag het en dat hy gevolglik nie met sy regshulpprokureur, Barend Titus, kon konsulteer nie. Hy het ook beweer dat hy aan sekere geestesgesondheidstoestande ly.
Claasen het in haar uitspraak gesê dat Lichtenstrasser nie sy spesifieke geestesgesondheidstoestande kon bewys nie. Ook dat hy dit nie as nuwe inligting kon voorlê nie aangesien dit reeds deel vorm van sy vorige borgtogaansoeke. Sy Covid-19 verweer kan ook nie as basis dien vir ‘n nuwe aansoek om borgtog nie want hy het nie voorheel appèl aangeteken teen vorige distrikshof uitsprake nie, sê Claasen.