Lion Jay – Ride my baby
“I wanne feel my baby” is sekerlik die kreet van enige motorfietsryer wat al die loutere plesier van die oop teerpad, die wind-in-die-hare en die brute krag van dié reus se enjin tussen sy of haar bene ervaar het.
Dit is waarom Lion Jay, wat verlede jaar sy toetrede tot die musiekbedryf gemaak het, sy nuutste Engelse enkelsnit, Ride my baby, aan alle motorfietsryers opgedra het.
“Ek is self ’n motorfietsentoesias en ek het gepoog om met dié enkelsnit die hunkering na die gevoel van vryheid en die adrenalien wat deur jou pomp as jy die oop pad aandurf, weer te gee,” vertel Lion.
Die oudpolisiekaptein het die aandag van die plaaslike musiekgemeenskap op homself gevestig nadat hy verlede jaar sy eerste enkelsnit, Dance Forever, uitgereik het. Hy is veral geloof vir sy kontemporêre country-rock aanslag. Dié snit is uitstekend deur plaaslike radiostasies ontvang en het verskeie kere op die Top 20-speellyste geboer.
Met Ride my baby wyk hy ook nie af van sy country-rock patroon nie. Die snit is een van sy eie pennevrugte en die lirieke is pasknap vir die melodie; dit is ’n vinnige andrenaliengevulde liedjie wat letterlik jou bloed deur jou are laat bruis (en sommer ook jou asem wegslaan.)
“Warm en lewendig,” beskryf Lion die liedjie wat iewers tussen nêrens en êrens op een van ons land se paaie gebore is.
Lion het eers op 50-jarige ouderdom sy amptelike toetrede tot die musiekbedryf gemaak en het dié jaar ook sy derde album, Die hart van ’n leeu, uitgereik. Daar is tien oorspronlike snitte op die album waarvan Dennis East twee van die liedjies geskryf het.
Lion wil homself nie binne ’n sekere genre kategoriseer nie. Hoewel Ride my baby wel dieselfde country-rock aanslag as Dance Forever het, is hy ’n veelsydige kunstenaar wat met gemak tussen Engels en Afrikaans, tussen pop en ballades kan rondbeweeg.
Ride my baby is tegnies en musikaal baie goed versorg en is deur Hennie Ungerer van UNG Studio vervaardig en opgeneem.