Skip to main content

ALTA THERON

Pretoria – Die Pekingese-hare is nou behoorlik aan die waai tussen die Dierebeskermingsverening (DBV) in Watloo, Silverton, en die mode-ontwerper Henja Schaap nadat die algemene bestuurder glo gesê het dat sy agtjarige hond, Mario, “maar kan vrek en dat hy sal besluit of dié brak kos en water mag kry.”

Schaap sê dat die DBV sy hondekind,  Mario, sowat twee weke gelede as gyselaar aangehou het omdat hy nie onmiddellik die uitstaande rekening, wat sowat R2 500 beloop het, kon betaal nie. Dít, sê hy, nadat hy gereël het om die geld af te betaal.

Eers nadat Dianne van Heerden van Pekingnese Rescue of South Africa tot Schaap se redding gekom en die geld aan die DBV betaal het, is Mario uit die “hospitaal” ontslaan.

“Ek het met die DBV probeer onderhandel, maar hulle wou nie vir Mario ontslaan voordat die geld betaal is nie. Henja het intussen dié bedrag aan ons terugbetaal,” sê Dianne.

Intussen wil Dewald Whalstrand, die algemene bestuurder van die Watloo-tak, nie kommentaar lewer nie. “Daar is ’n kriminele klag aanhanging gemaak en die polisie is besig om dit te ondersoek.” Hy wou ook nie uitbrei oor wat die kriminele klag sou behels nie.

“Wat, ek wou hom aangerand het, maar ek het nie ’n vuis gelig nie,” sê dié ontwerper wat oor die 100 kilogram weeg. “Die DBV gee niks vir honde om nie. Dit gaan net vir hulle oor rand en sent.”

Die Silverton polisie weet óók niks van die klag nie.

Henja erken dat “warm woorde” tussen hulle geval het en dat hy ’n paar kru-woorde gebruik het. “Maar watter pa sal nie sy hondekind wil beskerm nie? Mario is nooit verder as 200 meter van my af nie. Hy reis orals saam met my en hy was reeds getraumatiseer.”

Mario het ’n moeilike Januarie agter sy wolruggie. “Mario het vroeg in Januarie gif ingekry en ek het  hom na die veearts gevat. Na nege dae in die intensiewesorgeenheid en R30 000 later was Mario weer op die been.”

’n Dag nadat Mario ontslaan is, het Henja by ’n vriend op ’n wildsplaas – net buite Pretoria – gaan kuier.

Mario het té lekker met die ander honde gespeel, maar ’n oorlog het tussen die honde uitgebreek. Mario se ogie het tydens die bakleiery in die slag gebly. “Sy oog het amper op sy ken gehang.”’

Schaap sê in die eerste maand van die jaar gaan dit maar knyp-knyp in die modebedryf en hy het nie die nodige fondse gehad om hom weer na die veearts te neem nie.

Op 16 Januarie het hy toe aan die DBV se deur, wat ook veearts- en snykundedienste verskaf, geklop. “’n Dame het gesê dat ek ’n opnamefooi van onder ’n R1 000 betaal en dat die operasie min of meer soveel gaan kos. Sy het toe gesê dat ek kan afbetaal.”

Twee dae later was Mario – minus sy regteroog – reg om huis toe te gaan. Toe Henja dáár aankom, het Wahlstrand glo “sommer sy bril van sy neus afgepluk” en geweier dat Mario mag huis toe gaan,” sê Schaap. “Hy het toe ook gesê dat hy vir Mario sal uitsit en hom nie kos of water sal gee nie. Betaal moes ek betaal.”

Mario, sê Schaap, is nou nog getraumatiseer en het sy persoonlikheid heeltemal verloor. “Ek verklaar nou oorlog teen die DBV en sal nooit weer ’n sent aan hulle skenk nie.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!