Julian Plaatjies, ‘n 37-jarige man woonagtig in Villiersdorp in die Wes-Kaap, is die tweede jongste van vyf broers.
Plaatjies het op 15-jarige ouderdom begin dagga rook. Dit het gelei tot probleme by die skool, en hy het ook later begin steel om sy dwelmgewoonte te handhaaf.
Gedurende sy skooljare, te Genadendal Emil Weder Hoërskool, het hy begin mandrax rook en dit was al wat vir hom saak gemaak het. Hy was 16. Skoolwerk was vergete. Die skool kon nie meer met hom huishou nie en het hom geskors.
Hy het betrokke geraak by jong mense wat ook mandrax gebruik het en het begin tik op groot maat inneem.
Sy pa, ‘n korrektiewe beampte by Helderstroom gevangenis, het van niks gewis nie.
Sy dwelmgebruik het hom van sy familie vervreem aangesien hy sy ouers, broers en ander familie besteel het om sy verslawings te voed. Mense wat hom ken, het van hom as die ‘skelm’ gepraat.
Nadat hy in die tronk beland het, was dit asof hy opgegee het op die lewe. Hy het nie meer omgegee wat van hom word nie en het nadat hy sy termyn uitgedien het, ‘n dwelmverslaafde straatbewoner geword. Dwelmhuise was nou sy tweede tuiste.
Een nag, terwyl hy ‘n ou buitetoilet agter in iemand se erf met ‘n hond gedeel het, het iets wonderliks met hom gebeur.
“Daar langs die toilet, in die reën, in die koue, honger, het ek daardie nag ‘n stem hoor praat. Dit het vir my gesê: ‘jy het al alles probeer, maar nog nie vir my nie.’ Op daardie oomblik het ek gedink dat die dwelms my brein gesteel het en dat ek nou begin stemme hoor, maar het skielik besef dat dit net die Here kan wees aangesien ek nie hoog was nie.
“Ek het net daar besef dat dit waar was. Dat ek werklik alles wat sleg was probeer het, maar nooit iets goeds in my lewe aangepak het nie. Wat kon ek verloor? Ek het buitendien al alles en almal wat vir my saak gemaak het, weggesmyt.
“Ek het daardie aand besluit om die Here ‘n kans in my lewe te gee. En daardie besluit het ses jaar terug gebeur! Ek het gegaan van ‘n diep gat, na ‘n gelowige motiverende spreker en jeugwerker. Net die Here kan dit doen!
“Nou werk ek in skole in my gemeenskap en vertel my storie asook dit wat die Here vir my gedoen het.
“My motto is nou: ‘You have tried everything, now try me.’ Ek is ‘n bewys dat mens die gesig van verslawings kán verander.”
“As mense my wil kontak om by hul skole, veral dié wat kinders het wat raad benodig, te kom praat, kan hulle my gerus kontak by julianplates@gmail.com of skakel op 0789693929.”