ISAAC CLOETE
‘n Moordveroordeelde het onlangs redelik dapper getuig in ‘n opspraakwekkende mensehandelsaak.
Die vrou, wat in 2020 aan moord skuldig bevind was, is afkomstig van Springbok. Voor die moord was sy ‘n slagoffer van mensehandel en is tans ‘n staatsgetuie.
Die saak spruit uit gebeure waartydens haar (destydse) vriendin, Leandre Williams Ayuk (38, foto) en haar man Edward Ayuk(42), asook dié se broer, Yannick Ayuk (32), betrokke was.
Luidens die staat het Leandre, haar Kongolese man en haar swaer ‘n bordeel in Milnerton, Kaapstad bedryf.
Die vrou (haar naam is aan Die Waarheid bekend) het onlangs in die hooggeregshof in Kaapstad getuig dat Edward haar in 2017 die dwelm ‘rocks’ gegee het by sy huis. Dit was ‘n paar dae nadat sy in die Kaap aangekom het. Sy was toe onder vals voorwendsel van werk hierheen gelok.
Blykbaar was die bier en wyn wat sy gedrink het ook “gedokter.” Dis was die rede waarom sy ‘n snaakse gevoel in haar lyf gekry het. Hierna het sy haar klere uitgetrek en in ‘n agterkamer beland.
Sy kon nie onthou hoe sy daar gekom het nie. En ook nie hoeveel mans toe met haar seks gehad het nie, moes die hof hoor. Die saak duur voort.
Volgens die Valke op Springbok word die saak al ‘n geruime tyd ondersoek nadat meisies in April 2017 sake hier op Springbok teen Leandre gemaak het.
“Ons het haar (Leandre) in Kaapstad gaan arresteer nadat sy ‘n meisie aan een van ons agente verkoop het. Sy was skuldig bevind en beboet.”
Van die meisies wat weggekom of gevlug het, was verwagtend en die vermoede bestaan dat van hulle seksueel-oordraagbare siektes opgetel het weens die baie seks met verskillende mans.
Volgens ‘n bron van die Valke, na aan die ondersoeke, was Williams ook later gedwing om as prostituut te werk.
Drie van die meisies is van Matjieskloof, buitekant Springbok, een van Okiep (Skietbank) en die vyfde waarskynlik van Steinkopf of Komaggas afkomstig.
Hulle bly anoniem en sal nog almal teen die drie getuig.
Al drie beskuldigdes staan tans tereg op klagtes van onder andere mensehandel, ontvoering, handel in dwelms, aanranding en verkragting.
* Die getuie dien tans 10 jaar tronkstraf uit.