Die Vrystaatse gemeenskap staan saam teen veediefstal en dit het gelei tot die terugvind, met die hulp van twee polisiebeamptes, van 151 vermoedelik gesteelde vee by Matsieng bo-op die berg.
Die vee is glo uit KwaZulu-Natal gesteel.
Die teen-veediefstal gemeenskapslede het eergister inligting ontvang oor vermoedelik gesteelde vee by die Matsieng-berg in Qwaqwa. Hulle het die Landelike Koördineerders en Sersant Ncamane by die Makwane-polisiestasie genader vir hulp. Ncamane het op sy beurt weer hulp aangevra by die Namahadi-polisiestasie waarna konstabel Bucibo by hulle aangesluit het om te help.
Die span is na die berg waar hulle 151 vee gevind het. Daar was 117 skape, agt (8) beeste en 26 bokke. Daar word vermoed dat die vee uit KwaZulu-Natal gesteel is en vir ‘n afkoelperiode daar gelaat is.
’n Ondersoek is geopen en ondersoeke duur voort.