Skip to main content

President Cyril Ramaphosa sal na verwagting vandag die tweede deel van die verslag van die geregtelike kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog in die openbare sektor ontvang.

In ‘n verklaring het die presidensie gesê hy sal hierdie deel van die verslag publiseer kort nadat dit deur die sekretaris van die kommissie, professor Itumeleng Mosala, aan die direkteur-generaal in die presidensie, Phindile Baleni, voorgelê is.

Regter Raymond Zondo, die waarnemende hoofregter en kommissievoorsitter, het op 4 Januarie 2022 die eerste deel van die verslag aan president Ramaphosa by die Uniegebou voorgelê.

Die presidensie het gesê hy sal die derde en laaste deel van die verslag teen 28 Februarie 2022 ontvang.

“Soos vereis deur ‘n uitspraak van die Gautengse hooggeregshof op 28 Desember 2021 – en in ooreenstemming met die regstellende aksie vervat in die Openbare Beskermer se verslag gedateer Oktober 2016 – sal die President die volledige Kommissieverslag teen 30 Junie 2022 by die Parlement indien met ‘n aanduiding van sy voornemens met betrekking tot die implementering van die Kommissie se aanbevelings,” het die Presidensie gesê.

Leave a Reply