Die meeste Amerikaners glo president Joe Biden is behoorlik besig om droog te maak met sy hantering van die geweldige inflasie wat dreig om die land lam te lê.
Volgens ‘n ABC News/Ipsos-peiling wat gister bekend gemaak is, keur 69% van die land Biden se hantering van inflasie af. Slegs 29% hou van sy hantering van die inflasie-tameletjie. Inflasie het in Desember 7% bereik – die hoogste sedert die begin van die 1980s.
Hierdie peilingsresultate volg minder as ‘n week nadat Biden ‘n Fox News-verslaggewer ‘n “stupid son of a bitch” genoem het omdat hy durf vra het of inflasie ‘n politieke meulsteen vir die regering is.
Benewens hulle kritiek op sy hantering van inflasie, gee Amerikaners Biden lae punte vir sy hantering van die ekonomie (56 persent keur dit af, 42 persent keur dit goed), wapengeweld (69 persent afkeur, 29 persent goedkeuring), misdaad (64 persent afkeur, 34 persent goedkeuring), klimaatsverandering (51 persent afkeur, 47 persent goedkeuring) en die krisis met Rusland en Oekraïne (56 persent afkeuri, 41 persent goedkeuring).
Slegs 1 persent van die respondente sê die ekonomie is “uitstekend”, terwyl 75 persent sê dit is “nie so goed of swak nie.” Terwyl 50 persent Biden se hantering van die COVID-19-pandemie goedkeur, is dit ‘n daling van 19 persentasiepunte vanaf verlede Januarie toe dit 69 persent was.
Tot dusver het Biden inflasie is ‘n simptoom van die Covid-skade probeer afmaak, maar Desember was die sewende agtereenvolgende maand wat inflasie verwoesting gesaai het.
Jerome Powell, hoof van die Federale Reserweraad, het anvanklik die president se verskoning van ‘n “oorgangsprobleem” nagepraat, maar hy moet nou die feite in die gesig staar.
Hy het Dinsdag inflasie ‘n “ernstige bedreiging” vir die ekonomie genoem en erken opwaartse prysdruk sal tot ver in die jaar voortduur.
Na verwagting sal die Fed oor ‘n maand of twee die rentekoers vir die eerste keer in drie jaar opstoot – en ekonome voorspel dit is slegs die eerste van drie rentekoersverhogings vir die jaar.
Intussen is alles duurder – kos, energie, voertuie, huisvesting, vervoer, klere. . . Petrol was byna 50 persent meer in Desember. Pryse van gebruikte motors en vragmotors het met 37 persent gestyg.
Huistoevatsalarisse word ook kleiner: Inflasie-aangepaste uurlikse verdienste was in Desember 2,4 persent minder as in Desember 2020.