’n Suksesvolle geheime operasie het gelei tot die arrestasie van vier mans vir die onwettige besit van beskermde plante.
Inligting is Vrydag opgevolg deur die Springbok- en Kuilsrivierveediefstal- en bedreigde spesies (STESU)-eenhede. Die lede het met moontlike handelaars van beskermde plante by ‘n winkelsentrum in Mitchellsplein, Kaapstad, vergader.
‘n Polisieman het die vier smokkelaars in hul voertuig in ‘n parkeerterrein genader waarna STESU op hulle toegeslaan het. Die polisie het die voertuig deursoek en 6249 Conophytum en 2726 Pelargonium Repaceum in hul motor gevind.
STESU het beslag gelê op die beskermde plante, 4 selfone en hul silwer Ford Ranger-bakkie aangesien dit na bewering in die pleging van misdaad gebruik is.
Die vier sal binnekort in die Mitchellsplein-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van beskermde plante. Die ondersoek duur voort.