Daar is deesdae winskopies beskikbaar as mens tussen Kaapstad en Johannesburg wil vlieg, maar as mens twee keer vir ‘n vlug vir ‘n hele gesin moet betaal, kan dinge duur raak.
Estene Lotriet-Voster van Weltevredenpark kan slange vang. Sy het op Oujaarsdag plekke vir haar gesin op ‘n vlug op 10 Januarie van Kaapstad na Johannesburg gemaak. Die koste van die vlug was R5965.00.
‘n Paar minute later het sy ‘n e-pos van hierdie reisagentskap ontvang wat sê: “Ons wil nie hê jy moet ‘n goeie vlug laat verbyglip nie.” Sy het 28 uur gewag en steeds is die geld nie uit haar bankrekening gehaal nie. Sy het ook nie ‘n besprekingsbevestiging ontvang nie.
Die “moenie dat ‘n goeie vlug verbyglip nie” het by haar bly spook. Die agentskap beweer immers op hulle webwerf dat hulle alles finaliseer binne drie ure.
Uit vrees dat haar gesin in die Kaap gestrand sal wees as die skole begin en die grootmense terug moet wees by die werk, het sy op 1 Januarie nog ‘n bespreking gemaak – hierdie keer vir 11 Januarie. “Dis was tog duidelik uit hulle boodskap, die afwesigheid van bevestiging en die feit dat hulle die geld nie afgetrek het nie, dat my besprekings onsuksesvol was.”
Dié slag het alles seepglad verloop; die geld is binne minute uit haar bankrekening onttrek en sy het haar besprekingsbevestiging ontvang.
Twee dae later is die eerste vlug se koste ook skielik uit haar rekening gehaal.
Sy het sedertdien onverpoos probeer om met hulle in aanraking te kom. Elke e-pos en boodskap wat sy stuur het net ‘n outomatiese antwoord. Hulle gee geen telefoonnommer nie, en die Whatsapp-nommer wat hulle op hulle Facebook-blad gee, word deur ‘n vriendelike maar onbeholpe outomaat met die naam Lucky beman.
Estene het ‘n dringende navraag op hul webwerf aangeteken en sy wag nog om terug te hoor van hulle en wag steeds vir haar geld terug.
Sy het een slag ‘n e-pos van Travelstart gekry waarin hulle sê haar verlies is haar probleem, maar die kwaai Gautenger kan hulle nie in die hande kry om die saak verder te bespreek nie.
“Jy vertrou hierdie mense om jou op ‘n veilige vlug te kry en alles te hanteer en dan maak hulle so. Dit is baie teleurstellend,” sê Estene. “Ek loop in die vervolg liewer kaalvoet oor Lego Kaap toe as om weer deur hulle te bespreek.”
Die Waarheid het ‘n proesel van haar frustrasie gekry toe hulle Travelstart herhaaldelik probeer kontak het vir kommentaar. Hulle het net ‘n Whatsapp-nommer en alle antwoorde is outomaties – en dikwels heeltemal irrelevant.
Die indruk wat gelaat word, is dat die reisagent probeer om alle korrespondensie slegs tot elektroniese besprekings te beperk en korrespondensie met hulle kliënte ten alle koste probeer vermy.