Skip to main content

ISAAC CLOETE

Daar is lanklaas so baie gepraat oor ‘n nuwe hawe, maar niks word gedoen nie.

Dit is die Boegoebaai-diepsee-hawe langs Namakwaland se weskus in die Noord-Kaap. ‘n Hawe-ontwikkeling waaroor sedert die vroeë 80’s bespiegel word.

Die week is dit weer op almal se lippe nadat die Noord-Kaapse premier, Zamani Saul, aangekondig het dat die hawe teen R13 biljoen teen 2024 gebou gaan word.

“Ons wetgewer het R100 milj begroot hiervoor om ‘n lewensvatbare studie te doen. Dit behoort die sosio-ekonomiese landskap van ons provinsie te verander.”

Boegoebaai is ongeveer 60 km van Port Nolloth en 20 km van Alexanderbaai. Die projek sal ongeveer 2 971 direkte werksgeleenthede skep tydens die kontruksiefase. En 400 direkte poste tydens die operasionele fase. ’n Verdere 13 819 indirekte werksgeleenthede sal volg na eersgenoemde fases.

Die beoogde hawe sal op die grondgebied van die Namas in die Richtersveld gebou word. Hulle is egter baie besorg oor hulle voorouers se erfenis en nalatenskap.

Dit is die soort “taal” wat elke keer gebruik word, net wanneer die plaaslike bevolking meen en hoop dat daar met die veelbesproke projekte begin gaan word.

Volgens kapt Paul Swartbooi van die Bondelswarts Nama Tradisionele Owerheid (BNTO) moet die inheemse groepe soos die Namas baat vind hierby. Ook voel hy dat die historise waarde en Nama-kultuur hier nie vernietig moet word nie.

Sy pleidooi was: “Die plaaslike jeug moet vir seker deel wees van die opleidings- en werksgeleenthede. Meer belangrik is dat die Namas se teenwoodigheid op die terrein oor eeue en dekades heen ook duidelik moet uitgestippel word.”

Hy het ten slotte vertel dat die BNTO gewillig is om hulle samewerking te gee sodat die streek en mense se vooruitgang verseker word.

Volgens Lionel Bok, ‘n inwoner van die area, moet die Richtersvelders geken word voor daar aan ‘n hawe gedink kan word. Hy het vroeër gesê: “Ons voorouers se grafte lê vir jare in die Boegoebaai-omgewing. Wettige ooreenkomste en vergoeding sal ook met die grondeienaars gesluit moet word. Verder moet daar geluister word na die bekommernisse van omgewingsaktiviste en bewaringskundiges.”

Leave a Reply