President Cyril Ramaphosa het die vrystelling van die finale verslag van die ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) na die verkryging deur alle regeringsfere van goedere, werke en dienste wat met die COVID-19-pandemie geassosieer word, aan die publiek gemagtig.
Die verslag wat gister gepubliseer is, sluit nie besonderhede in van voortgesette ondersoeke na bewerings wat deur die SOE ontvang is ná die tydlyn wat gestel is vir sake om in die finale verslag ingesluit te word nie.
Die SOE verwag dat hierdie sake, wat deur die proklamasie gedek word, tussen Maart en April 2022 afgehandel sal wees, voor die indiening van ‘n aanvullende verslag aan die President aan die einde van Junie 2022.
President Ramaphosa het die SOE gemagtig om enige bewerings te ondersoek wat verband hou met die misbruik van COVID-19-fondse in alle sfere van die regering.
Die SOE het 5 467 kontrakte ondersoek wat aan 3 066 diensverskaffers met ‘n totale waarde van R14,3 miljard toegeken is.
Ondersoeke is afgehandel met betrekking tot 4 549 kontrakte, waarvan 2 803 kontrakte onreëlmatig bevind is. Dit kom neer op 62% van die afgehandelde ondersoeke.
Vyf-en-veertig sake – wat ‘n gesamentlike waarde van R2,1 miljard uitmaak – is by die Spesiale Tribunaal oor Korrupsie, Bedrog en Ongeoorloofde Geldvloei aangemeld. Die Spesiale Tribunaal het ‘n statutêre mandaat om openbare fondse wat deur korrupsie, bedrog en onwettige geldvloei uit die fiskus gestroop is, te verhaal, en is betrokke by siviele aksie wat meer buigsaam en minder tydrowend is.
Die SOE het 224 verwysings gemaak vir dissiplinêre stappe teen amptenare in staatsdepartemente of -entiteite.
Die SOE het 386 verwysings na die Nasionale Vervolgingsgesag gemaak, asook drie verwysings vir Uitvoerende Optrede.
Die SOE het 330 verwysings vir administratiewe optrede gemaak, wat swartlys insluit. Die randwaarde van werklike kontant en bates wat op grond van die ondersoek verhaal moet word, is R551,5 miljoen, terwyl kontant en bates wat tot op hede verhaal is R34,2 miljoen beloop.