Skip to main content

ISAAC CLOETE

‘n Talentvolle skrywer van Garies in Namakwaland het nog ‘n mylpaal bereik met haar skryfkuns.

Sy is Elize Willems (52), van wie ‘n paar gedigte in die nuwe opwindende bundel, Feminite, nou pronk.

Die “vroulike bundel,” Feminite (vrouwees) is saamgestel deur Philip Nel, wat ook ‘n skrywer is. Volgens hom is vrouwees ‘n soort heiligheid. God is bewus hiervan daarom stort Hy soveel genade teenoor vrouens uit, voel hy.

Willems is nie die bietjie trots nie op nog een van haar mylpale wat sy bereik het. Sy is veral in ekstase omdat haar gedig getiteld, “vrou in die water,” gebruik is as die openingsgedig.

In die gedig besing sy die uiterlike beeld van ‘n bekoorlike vrou in die water. Sy lê klem op die stilte en rustigheid wat ‘n vrou, soos koel borrelende water, kan uitstraal.

Sy vertel uitasem: “Hieroor voel ek baie geëerd. Philip het baie tyd en energie ingesit en die eindproduk is pragtig.”

Behalwe hierdie gedig is daar ook ander gedigte van haar in Feminite opgeneem. Willems is een van meer as honderd uitgesoekte digters van wie werke hierin verskyn.

Oor die bundel skryf Nel: “In Feminite beleef ons die vrou se waarde, maar ook haar vrese, blydskap en dan die liefde. Vrouens kan met oorgawe liefhê en hulle emosies baie duidelik wys soos dié bundel bewys.”

Met Feminite wil ons opnuut weer die aandag op vroue, in hulle kleurvolle dimensies vestig, volgens hom.

Oor Willems het Nel gesê:

“Met die regte geleenthede kan sy werklik haar stempel afdruk, want sy het geweldig talent. Sy het ‘n baie goeie aanvoeling vir die gebruik van beelde.”

Volgens Nel weet Willems ook hoe om die leser mee te voer met keurige beelde  en woord-ekonomie, soos sy dit in “vrou in die water” reggekry het.

Intussen het Willems Maandag verneem dat sy ook die skrywer van die week is op die Potpourrigroep van die bundel se uitgewer.

Haar digbundel, “Die liefde in Ink,” is ook die boek van die week.

Leave a Reply

error: Content is protected !!