Skip to main content

Op 25 Januarie 1981 is Laingsburg in die Wes-Kaap deur ‘n hewige vloed verwoes. Die harde reën het die hele dorp onder water gedompel; net die huise se dakke was sigbaar. Minstens 100 inwoners het hul lewens verloor en die liggame van 72 mense is nooit gevind nie. Altesaam 184 huise is vernietig en net 21 huise het bly staan.

425 mm reën het op 24 en 25 Januarie 1981 geval wat veroorsaak het dat die Buffelsrivier wat noord-suid deur die dorp vloei, se walle laat bars het. Die gemiddelde reënval was 175 mm. Die krag van die water was so groot dat slagoffers se liggame so ver as Mosselbaai gevind is. Tien van die oorlewendes is 21 km verder by die Floriskraaldam gered. Buite-noodlenigingspanne het Laingsburg eers 24 uur later bereik aangesien al die brûe wat na die dorp lei, versper is.

’n Fonds van R3 miljoen is deur die koerant Die Burger vir slagoffers van die vloed ingesamel. Die staat het R7 miljoen bestee aan die herstel van die infrastruktuur en die bou van 118 huise, ‘n kommersiële sentrum, ‘n sportkompleks en ‘n kosskool. Daar was bewerings dat slagoffers van die vloed in ‘n massagraf begrawe is. Dit is deur die provinsiale regering van die Wes-Kaap ondersoek. Die argeologiese ondersoek het onomwonde bewys dat daar geen bewyse was om die bewerings te staaf nie.

Verwysings

Wes-Kaapse regering, (2004), Upgrade of Cemetery, van Wes-Kaapse regering, 24 Maart [aanlyn], Beskikbaar by www.westerncape.gov.za [Besoek: 20 Januarie, 2009]|SAWDIS, The Lainsburg Flood Disaster: January 1981 , van SA Weather and Disaster Information Service, [aanlyn], Beskikbaar by saweatherobserver.blogspot.com [Besoek: 20 Desember 2013]

Leave a Reply

error: Content is protected !!