‘n Inentingspan wat in Soshanguve, Pretoria gestasioneer was, is Vrydag met ‘n vuurwapen beroof.
‘n Groep gesondheidswerkers wat inspuitings toegedien het, is deur vyf mans met ‘n vuurwapen aangehou. Die misdadigers het gevlug met toebehore, insluitend vyf selfone en twee tablette wat aan die span behoort het.
Die woordvoerder van die Gautengse gesondheidsdepartement, Kwara Kekana, het gesê die aanvalle belemmer inentingspogings.
“Die voortgesette aanvalle op mobiele inentingspanne wat die inentingsprogram na die gemeenskap neem, plaas nie net die lewens van die gesondheidsorgwerkers in gevaar nie, maar dit het ‘n negatiewe impak op die inentingsprogram. Die saak is by die polisiestasie aangemeld waar ‘n saak geopen is. Gelukkig is nie een van die spanlede beseer nie en sal berading aan die geaffekteerde personeel verskaf word,” het Kekana gesê.