Mervyn Dirks, ‘n geskorste parlementslid, beveg die ANC se optrede.
Sy prokureur, Godrich Gardee, het in ‘n skrywe aan die parlement geëis dat Dirks in sy pos herstel word.
Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Skopa) se hoofsweep, Pemmy Majodina het Dirks geskors nadat hy geweier het om ‘n brief terug te trek waarin hy Skopa vra dat pres. Cyril Ramaphosa verantwoording moet doen oor sy beweerde aandadigheid in wanbesteding van openbare fondse wat glo gebruik is vir politieke party-veldtogte
“U kantoor het op 21 Januarie ‘n brief van voorsorg-skorsing aan ons kliënt bedien waarin beweer word dat sy optrede nie ‘n sweep van die ANC-parlementêre koukus pas nie.
“Ons kliënt het egter sy grondwetlike verpligting as lid van Scopa en as pligsgetroue burger nagekom.
“Die beweerde skorsing van ons kliënt in Scopa-aktiwiteite is onwettig en ongeldig en is teenstrydig met verskeie bepalings van die Grondwet, insluitend a42(3), a56, en die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite 12 van 2004.
“Dit is ons opdrag om van u te eis, soos ons hiermee doen, dat u ons kliënt van alle regte en voorregte herstel … en ons binne 24 uur ‘n skriftelike onderneming gee dat u nie sal inmeng met die pligte en verantwoordelikhede wat aan ons kliënt toevertrou is nie. By gebreke hiervan sal ons opdrag gegee word om die hof te nader vir dringende en gepaste intreding,” lui aanhalings uit Gardee se skrywe.
Dirks was verlede Dinsdag deur Majodina beveel om die brief aan Skopa se voorsitter, Mkhuleko Hlengwa terug te trek. Dirks se weiering het met ‘n skorsing gevolg. Volgens Majodina is Dirks se optrede onvanpas vir ‘n ANC sweep. Die gevolg was dat hy gestroop was van sy pos en sy lidmaatskap van ‘n strategiegroep in die ANC, hy mag geen mediaplatforms betree om die aangeleentheid te bespreek nie, en hy is ook uit koukus WhatsApp-groepe verwyder.