Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is besig met ‘n ondersoek om vas te stel wat die oorsaak van ‘n brand was wat gister om en by 19:00 uitgebreek het by die Waterkloof-lugmagbasis in Tshwane.
Volgens ‘n SANW woordvoerder, brigadier-generaal Andries Mahapa, is niemand beseer nie en die brand is binne ‘n uur geblus.
“Alles is onder beheer. Daar is geen rede om bekommerd te wees oor enigiets nie,” het Mahapa aan verslaggewers op die toneel gesê nadat minstens ses brandweerwaens van die Suid-Afrikaanse Lugmag-brandbestrydingspanne van Swartkops en Waterkloof Lugmagbasisse opgedaag het om die vuur te blus.
Geen skade is aan die basis buite die brandstofdepot gerapporteer nie.
Herman Mashaba, die leier van ActionSA, het nadat die brandvoorval op sosiale netwerke versprei is, getwiet: “Wat op aarde gebeur met ons land, president @CyrilRamaphosa? Is dit nog ‘n onverklaarbare brand? Gaan daar nog ‘n geestelike versteurde persoon hê wat hiervoor verantwoordelik sal wees? Red asseblief ons geliefde land.”
Daar is geen aanduiding waar die brand ontstaan het nie. Ondersoeke na die oorsaak en gebeure wat tot die brandvoorval gelei het, duur voort.