Skip to main content

As daar een ding is wat die koronavirus-pandemie aan die lig gebring het, is dit dat die Wêreld-Gesondheidsorganisasie (WGO) ‘n dinosaurus is wat sy doel uitgedien het.

Gesondheidspesialiste, nie-regeringsorganisasies en van die WGO se grootste skenkers sê die organisasie is lomp, swak om op epidemies te reageer en te yl versprei.

Maar dis g’n wonder as mens die kollig plaas op die WGO se direkteur-generaal, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus.

Die feite rondom die omie met die snor is verdoemend. As daar enige geregtigheid in die wêreld was, is daardie lieplapper lankal voor ‘n wêreldhof gesleep:

Dr. Tedros is ‘n terroris

Ghebreyesus se politieke loopbaan het begin as lid van die politburo van die Tigray People’s Liberation Front (TPFL), ‘n terreurorganisasie van die Tigray-minderheidsgroep (6% van die Ethiopiese bevolking). Die TPFL is in die Amerikaanse Homeland Security Global Terrorism Database gelys as ‘n derdevlak-terreurorganisasie wat verantwoordelik is vir ‘n reeks ontvoerings, bomaanvalle en gewapende rooftogte.

Ghebreyesus was in ‘n stadium die derde magtigste person in die TPFL.

Hy en China is hand-om-die-blaas

Amerika was nog altyd betreklik apaties teenoor die WGO. Behalwe vir ‘n tyd in 2020, toe pres. Donald Trump die Amerikaanse geldkraantjie vir die WGO toegedraai het oor Tedros se openlike bevoordeling van China, was Amerika weinig meer as ‘n onbelangstellende ryk  donateur.

Nie China nie. Dit is welbekend dat China besig is met ‘n grootskeepse veldtog van beleggings- en mediese kolonialisering in die derde wêreld en dat hulle onder andere die WGO gebruik om hulle doelwitte te bereik.

China het tydens dr. Tedros se veldtog om die WGO se grootbaas te word, hulle beleggings in Afrika as hefboom gebruik om lande op die vasteland te dwing om in die VN vir hom te stem. Hulle het ook druk op Pakistan geplaas om hulle kandidaat vir die pos te onttrek.

Die WGO-direkteur-generaal is ‘n uitgesproke lofsanger vir die Chinese regering se COVID-19-reaksie. Op 28 Januarie 2020 het Tedros met die Chinese president Xi Jinping in Beijing vergader. Na afloop van die vergadering het Tedros China geprys vir “die stel van ‘n nuwe standaard vir uitbraakbeheer” en die land se topleierskap geprys vir sy “openheid om inligting te deel” met die WGO en ander lande.

Tog was Chinese amptenare in Wuhan, die episentrum van die COVID-19-uitbraak, besig om burgers in hegtenis te neem omdat hulle “gerugte versprei” oor die siekte, terwyl aanlyn-sensors die vloei van inligting beheer het.

Ten spyte van toenemende bewyse van China se verkeerde hantering van die uitbraak en toenemende binnelandse Chinese verontwaardiging oor die regering se sensuur, bly Tedros China se groot handperdjie.

Op 20 Februarie by die Munich-veiligheidskonferensie het Tedros sy lof vir China verdubbel en gesê dat “China vir die wêreld tyd gekoop het.”

Tog was hy gou om ander lande te kritiseer vir hul reaksies op die pandemie. Hy het ‘n beroep op nasies gedoen om nie reise met China te verhoed nie en gewaarsku teen “beskuldiging of verpolitisering” van die uitbraak.

John Mackenzie, ‘n lid van die WGO se uitvoerende komitee, het in die openbaar verklaar dat internasionale optrede anders sou gewees het as dit nie vir China se “laakbare” verduistering van die omvang van die uitbraak was nie.

China se invloed in die WGO is ook duidelik in die organisasie se behandeling van Taiwan. Sedert China in 1971 tot die VN toegetree het, het dit van tyd tot tyd Taiwan se WGO-lidmaatskap geblokkeer op grond daarvan dat die demokraties beheerde eiland “deel van China” is.

Dr Tedros se huiwering om kritiek teen China uit te spreek oor die herkoms en hantering van Covid, staan in skrille kontras met die WGO se optrede tydens die 2003 SARS-uitbraak in daardie land. Toe het die WGO se DG, Dr. Gro Harlem Brundtland, geskiedenis gemaak deur die WGO se eerste reisadvies in 55 jaar te verklaar wat aanbeveel het dat reisigers die siekte-episentrum in suidelike China vermy.

Dr. Brundtland het China ook gekritiseer omdat dit wêreldwye gesondheid in gevaar stel deur te probeer om die uitbreking te verdoesel deur middel van sy gewone strategie om fluitjieblasers in hegtenis te neem en media te sensor.

Wat het verander in die byna twee dekades sedert die SAID-epidemie? Sedert sy stigting het die WGO vrywillige begrotingsbydraes vereis om sy breë mandaat na te kom. In onlangse jare het die WGO meer afhanklik geword van hierdie fondse om begrotingstekorte te hanteer. Lande se bydraes het sedert 2014 met slegs 3% gegroei. Vrywillige bydraes het egter met 18% toegeneem van $3,9 miljard in 2014/15 tot byna $4,7 miljard in 2018-’19.

Hierdie afhanklikheid van vrywillige bydraes laat die WGO hoogs vatbaar vir die invloed van individuele lande. China se WGO-bydraes sedert 2014 het met 52% gegroei tot ongeveer $86 miljoen. China het egter ook vrywillige bydraes effens verhoog van $8,7 miljoen in 2014 tot ongeveer $10,2 miljoen in 2019. Dit is natuurlik net ‘n druppel aan die emmer as mens dit vergelyk met Amerika se $893 miljoen-bydrae.

Hy is g’n mediese dokter nie

Dr. Tedros is die WGO se eerste direkteur-generaal in die 72-jarige bestaan van die WGO wat nie ‘n geneesheer is nie. Hy het nooit as mediese dokter gepraktiseer nie. Sy doktorsgraad is in gemeenskapgesondheid.

Tedros is ‘n beroepspolitikus wat onder meer as Ethiopië se minister van gesondheid diens gedoen het – ‘n termyn wat deur toesmeerdery, menseregtevergrype en manipulasie gekenmerk is.

Hy is ‘n liegbek wat drie cholera-pandemies toegesmeer het

Tedros het in 2017 in die spervuur beland oor sy hantering van cholera-epidemies in 2006, 2009 en 2011 in Ethiopië en Soedan. Dokters en gesondheidswerkers het hom destyds daarvan beskuldig dat hy versuim het om die uitbrekings van die siekte behoorlik te klassifiseer om te verhoed dat die twee Afrika-regimes in die verleentheid gestel word.

‘n Groep Amerikaanse dokters het in ‘n brief aan hom geskryf dat hy aandadig is aan die pyn en swaarkry van mense omdat hy die cholera-epidemies vir politieke gewin probeer stil hou en dit as “waterige diarree” omskryf het. Die media se mond is gesnoer om enigiets oor cholera te skryf of sterftesyfers te publiseer.

Hy was Robert Mugabe se gatgabba

Tedros het die wêreld kort na sy verkiesing as DG van die WGO stomgeslaan toe hy bekendgemaak het dat hy Zimbabwe se president Robert Mugabe as ‘n welwillendheidsambassadeur vir die organisasie wou aanstel.

Daar was so ‘n herrie rondom sy plan dat hy dit maar teruggetrek het.

Mal Bob was ‘n besonder onvanpaste aanstelling as welwillentheidambassadeur. Hy was nie net die leier van ‘n regering met ‘n swak rekord van demokratiese vryhede nie, maar Zimbabwe se gesondheidstelsel het onder hom heeltemal in duie gestort.

Laat in sy lewe moes Mugabe lang tye in die buiteland deurbring vir mediese behandeling.

Sy naam word gekoppel aan menseregtevergrype

Tydens sy termyn as minister van gesondheid, het Ethiopie se TPFL glo byna die hele $3,5 miljard hulpfondspakket aan die land gebruik vir politieke onderdrukking.

Human Rights Watch (HWR) het die Europese Parlement in 2016 daarvan beskuldig het dat hy die talle menseregtevergrype deur die Ethiopiese regime oor die hoof gesien het.

HWR het beweer dat die regering programme vir voedselhulp, landbou, mikrokrediet of gesondheidsorg gebruik het om sekere etniese groepe te bevoordeel, terwyl ander stelselmatig daarvan ontneem is.

Tedros word daarvan beskuldig dat hy ‘n volksmoordbeleid as Ethiopië se Minister van Gesondheid uitgevoer het.

Die Amhara-etniese groep het meer as 2,5 miljoen mense tussen die sensusse van 1997 en 2007 verloor. Die Amhara het nie by dieselfde gesondheidsdienste baat gevind nie en is nie gelyke hulpbronne as die oorheersende Tigray-bevolking toegeken nie, behalwe vir een program – ‘n voorbehoedveldtog waarvoor die Amhara blykbaar bo-aan die lys was.

Leave a Reply

error: Content is protected !!